Bron onbekend
In die konsentrasiekamp, meer as 100 jaar gelede, sit Anette Marais op ’n stomp en skud die stof …van haar verslete klere af.
Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasie kamp.
Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog . …. ..
Anette lees die woorde van Mattheus 10:29 – “Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
Mat 10:30 En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.
Mat 10:31 Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”
Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer.
Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasie kamp in Bethulie.
Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop word vir hierdie vrouens.
Op 21 Mei 1902 was die oorlog verby, Anette het op pad terug na haar huis gestop by ’n vrou met invloed en haar vertel van die mossie-boodskap, sy het dit weer oorvertel en in 1923 het die mossie volksbesit geword toe dit op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) verskyn het.
Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ’n park in Londen. Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome en sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie” boodskap en bid vir die soveelste keer vir werk!
Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het, hy spring op die eerste trein en begin met ʼn lang dag se onderhoude. Moeg maar gelukkig en met ’n permanente werk klim hy weer laatmiddag op die trein.
Toe hy inklim sien hy ’n muntstuk op die vloer lê, hy tel dit op, en daar op ’n trein in Londen hou hy ’n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand, met ’n mossie agter op. Hy vertel dat die wêreld rondom hom gaan stil staan het, dat hy besef het dat God daar by hom op die trein is en dat gebed sy waarborg is in hierdie stukkende wêreld.
Amen, ons is vir God baie werd.