Blitspatrollie-moorde: Beskuldigde wil homself in Kimberley-hof verteenwoordig

Die man wat daarvan aangekla word dat hy twee blitspatrollielede in Kimberley vermoor het, verkies om homself te verteenwoordig wanneer sy verhoor aanstaande jaar in die hooggeregshof hervat.

Daniel Wilfred Alberts (39) se verhoor is oorgeplaas na die hooggeregshof in Kimberley toe hy Woensdag (23/10) vlugtig in die Kimberley-landdroshof verskyn het, sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.

Alberts staan tereg op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, een van motordiefstal en een aanklag van diefstal. Hy bly in aanhouding tot sy verhoor in die hooggeregshof op 10 Februarie begin.

“Tydens sy verskyning in die landdroshof het die beskuldigde die hof ingelig dat hy nie langer die dienste van sy regsverteenwoordiger sal nodig hê nie,” sê Senokoatsane, “en van voorneme is om homself in hierdie saak te verteenwoordig.”

Konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo (45) van Kimberley se blitspatrollie het op 22 Augustus inligting opgevolg oor ’n gesteelde voertuig, wat op pad was van Bloemfontein en later in Kimberley gewaar is.

Alberts het tot by ’n Transnet-perseel gejaag, waar hy probeer weghardloop het ná ’n botsing. Toe die twee polisiebeamptes hom agternagesit, het hy na bewering op hulle losgebrand. Hy is later daardie dag in hegtenis geneem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui