Ma in hof wat dogters glo vir prostitusie uitverhuur

Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel en is nie geskik vir kinders nie.

ʼn Vrou wat na bewering haar 12- en 13-jarige dogters vir seksdade uitverhuur het, op sommige dae aan soveel as nege of tien mense per dag, het Maandag in die hooggeregshof verskyn.

Saam met die 38-jarige vrou het ʼn 35-jarige prokureur van Heidelberg wat glo gereeld vir die dienste betaal het, in die rondgaande hooggeregshof verskyn wat in Palm Ridge sit.

Die twee staan saam tereg op sowat 70 aanklagte wat insluit verkragting, die handel van kinders, die versuim om ʼn slagoffer van mensehandel aan te meld, seksuele aanranding, die besit en vervaardiging van kinderpornografie, die seksuele uitbuiting van minderjariges, die seksuele gereedmaking van ʼn minderjarige, kindermishandeling en die rig van ʼn vuurwapen.

Nie die vrou of die prokureur mag geïdentifiseer word voordat hulle gepleit het nie.

Luidens die klagstaat het die ma twee van haar dogters se “seksuele dienste” op aanlyn webwerwe geadverteer. Dié webwerwe word spesifiek deur gesellinne en masseerders gebruik om volwasse dienste te adverteer.

Die staat voer aan die oudste dogter, nou 15, is die dag voor haar 13de verjaardag deur haar ma gedwing om met onbekende mans, teen betaling aan die ma, seks te hê.

“Daarna het die ma die oudste dogter op ʼn daaglikse basis gedwing om vir geld seks te hê met verskeie onbekende mans by verskeie gastehuise in en rondom Boksburg, Brakpan, Heidelberg, Springs, Villiers [in die Vrystaat] en Amanzimtoti [in KwaZulu-Natal],” lui die klagstaat. Volgens die staat het die ma die vergoeding vir haarself gehou.

Die ma het soms self as sekswerker gewerk.

“Besprekings is gemaak vir ongeveer nege tot tien kliënte per dag,” voer die staat aan.

Wanneer die oudste dogter geweier het, is sy glo aangerand en sleggesê.

Drie maande ná haar 13de verjaardag het die prokureur, glo op 5 September 2022, vir die eerste keer die kind vir seks bespreek. Dit het in die daaropvolgende maande weer telkens gebeur, lui die klagstaat. In Desember 2022 het die prokureur glo die ma genader om haar dogter te “koop”. Volgens die staat is daar op ʼn bedrag van R160 000 ooreengekom en het die prokureur ʼn deposito van R24 000 betaal.

Dit is glo in dié tyd dat die oudste dogter in ʼn voertuig saam met die man gedwing is en hy haar na verskeie gastehuise geneem het om seks met haar te hê. As sy geweier het, het die prokureur na bewering ʼn vuurwapen teen die meisie se kop gedruk. Hy het na bewering ook homself afgeneem wanneer die dade gepleeg is.

Die kind is na bewering soms toegesluit sonder kos of water en is een keer glo gedwing om die prokureur se kantoor skoon te maak.

Haar jonger suster, wie se geboorte glo nooit by die departement van binnelandse sake geregistreer is nie, is na bewering ook in ʼn lewe van prostitusie gedwing.

Die meisie se jonger suster, destyds 12, is na bewering gedwing om saam met haar suster seks met onbekende mans te hê.

Die ma sou glo naakvideo’s en foto’s van albei haar dogters neem. Dit is juis dié beeldmateriaal wat Maandag tot die uitstel van die ma en prokureur se verhoor gelei het.

Hul onderskeie regspanne het die hof gevra om die beeldmateriaal na te gaan en uitstel is toegestaan.

Die ma, wat verlede jaar borgtog geweier is, het hierna vinnig met haar regsverteenwoordiger in die hof gesels voordat sy weer na die selle geneem is. Volgens haar Facebook-blad is sy van Polokwane in Limpopo. Op Facebook maak sy herhaaldelik plasings waarin sy die feit betreur dat haar kinders – sy het nog ʼn jonger dogter en twee ouer seuns – uit haar sorg verwyder is.

“Aan my kinders; ek sal altyd julle ma bly al is ons geskei van mekaar. Ek is net julle ma en sal julle vir altyd lief hê,” lui een van die plasings.

Dit is nie bekend of die prokureur steeds praktiseer nie.

Die verhoor word later vanjaar voortgesit.

(Maroela Media)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui