Die diamanthandelaar Louis Liebenberg was in ‘n goeie gees toe hy sy eerste verskyning in die Bronkhorstspruit-landdroshof gemaak het en geskree: “Viva Msholozi, viva MK,” toe hy die beskuldigdebank binnegekom het.
Die Valke het Dinsdagaand Liebenberg – ’n bekende weldoener van oudpresident Jacob Zuma – en sy vrou, Dezzi Liebenberg, by ’n restaurant by die Benoni Buiteklub gearresteer.
Hulle is in hegtenis geneem in verband met bewerings dat niksvermoedende beleggers in sy maatskappy, Tariomix – wat handel dryf as Forever Diamonds and Gold – sedert 2019 uit meer as R4 miljard geswendel is.
Hulle staan saam met sewe ander tereg op aanklagte van rampokkery, bedrog, geldwassery en diefstal.
Hul medebeskuldigdes is Liebenberg se voormalige prokureur, Walter Niedinger; Tariomix mede-direkteur Magdalena Petronella Kleynhans; Liebenberg se persoonlike assistent, Nicolize van Heerden; sy voormalige kantoorbestuurder, Helena Dorothea Amy Schulenburg; Johannes en Christell Badenhorst, wat albei voormalige direkteure is by maatskappye wat deur Liebenberg bestuur word; en oudwerknemer Adriaan Dewald Strydom.
Van die Liebenbergs se medebeskuldigdes is Dinsdag in hegtenis geneem, en ander Woensdag.
Kolonel Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê die sindikaat is “na bewering betrokke by die hantering van ongeslypte diamante en bedrog”.
“Die meesterbrein/leier het na bewering ongepoleerde diamante op sosiale media geadverteer en potensiële beleggers genooi om in sy beweerde diamanthandelbesigheid te belê, met ’n belofte van ’n winsgewende opbrengs wat nooit gerealiseer het nie,” het hy gesê.
Ná ’n vertraagde begin het hul eerste verskyning in die hof uiteindelik Donderdagmiddag begin.
Liebenberg het geglimlag en vir lede van die publiek in die galery gewaai, onder wie sommige van sy beweerde slagoffers, terwyl hy sluk uit ‘n bottel vonkelwater geneem het.
Op ’n vraag oor hoe hy voel deur die menigte joernaliste wat by die hof vergader is, het hy gesê: “Die lewe is goed”.
“Dankie aan die media wat my beroemd gemaak het,” het hy bygevoeg.
’n Borgverhoor het Donderdagmiddag afgeskop, met die staat wat borgtog vir almal behalwe drie van die beskuldigdes teenstaan: Kleynhans, Schulenburg en Niedinger.
Ten tyde van publikasie was verrigtinge nog aan die gang.
Die hof het intussen beveel dat nie een van die regsverteenwoordigers in die openbaar geïdentifiseer kan word nie.