Geskryf deur: Dr Jann Schlebusch
Leer die Bybel van Nuwe-testamentiese Verbondsvolke, of is daar net ‘n geestelike Verbondsvolk in die Nuwe Testament? Of is die fisies-biologiese Israel die enigste Verbondsvolk?
- God se verbond was in die Ou Testament net met Israel[1]; en ná die verdeling onder konings Rehabeam en Jerobeam was daar twee Verbondsvolke: Israel (ook genoem ‘Efraim’[2]) en Juda.
- Die Bybel leer dat God [JHWH] Israel uitverkies het uit al die volke en met hulle ‘n Verbond gemaak[3]. In sy Verbondsbeloftes het Hy gesê Hy sal vir hulle ‘n God wees en hulle moet vir Hom ‘n volk wees en voor Hom wandel[4].
- Belangrik is die onderskeid tussen uitverkiesing tot saligheid en uitverkiesing vir ‘n sekere doel[5]. Israel is nie uitverkies tot saligheid nie – dit is ‘n persoonlike saak. Israel is uitverkies om God se eer te dra[6]. Dit is ‘n kollektiewe verantwoordelikheid om die volk aan die Heerskappy van Christus te onderwerp. Dit gaan oor etiek: wat beskou word as reg en verkeerd in die kultuur van ‘n volk.
- Daar was dus van die begin af ‘n voorwaarde: Israel moes God se Verbond hou. So-nie sal God hulle verwerp[7]. Hulle het egter herhaaldelik afvallig geraak en sy Verbond verbreek.
- Hy het hulle baie kanse gegee, maar uiteindelik het Hy aan die Tienstammeryk van Israel die skeibrief gegee[8]. Ook dit getuig van die Here [JHWH] se onveranderlikheid.
- Uiteindelik het Juda na baie waarskuwings dieselfde pad geloop. Toe die Messias kom, was sy primêre sending om sy volk Juda weer ‘n kans te gee[9]. Maar toe verwerp hulle Hom en boonop vermoor hulle Hom[10].
- Die gelykenis van die landbouers in Mt 21:33-45 is ‘n sleutelteks. Hoe moet ons dit verstaan? Die eienaar (God) het sy wingerd (ná die skeibrief met Israel) aan Juda toevertrou, maar die volk Juda het erger afgewyk as Israel[11]. Die Here het sy profete gestuur om hulle tot verantwoording te roep, maar hulle het die profete verwerp en selfs doodgemaak[12]. Uiteindelik het Hy sy Seun Jesus gestuur om sy volk[13] ‘n laaste kans te gee. Maar sy eie volk het Hom verwerp en uiteindelik ook vermoor[14]. Dit is waarna Koning Jesus verwys in: Mt 21:43-45 “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan volke[15] gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel. En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek.”
- Omdat die Jode[16] die Messias verwerp en vermoor het:-
- Daarom het Jesus die sendingopdrag in Mt 28 gegee dat sy dissipels die evangelie aan al die ‘nasies’ (‘ethnos’) moet verkondig en hulle moet leer om sy bevele te gehoorsaam (aan sy gesag te onderwerp).
- Daarom lees ons in Hd 15:14-18 “Símeon (Petrus) het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene (ethnos = heidense volke) vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies (ethnos = nie-Israelitiese volke) oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.” Hierdie is ook ‘n sleutelteks. Let daarop dat JHWH sy Naam uitroep oor heidense volke ‘om die vervalle hut van Dawid te herstel’. Die ‘hut van Dawid’ is Christus se koninkryk op aarde. Dit plaas uitdruklik ‘n verbondsverantwoordelikheid op elke volk oor wie God sy Naam uitroep. En dit sluit aan by die uitdruklike profesie van Koning Jesus in die gelykenis van die landbouers wat hierbo aangehaal is en waar Hy sê Hy gee die koninkryk aan ‘ethnos’ = heidense volke wat die “vrug van die koninkryk sal dra”. Die vrug van die Koninkryk kan tog niks anders beteken as God se Verbond nie: ‘Julle moet vir my ‘n volk wees en ek sal vir julle ‘n God wees. Julle moet voor my wandel.’
- Daarom gee die Woord die hele uiteensetting in Rom 10 en 11. In Rom 10:3 lees ons dat Israel hulle nie aan die geregtigheid van God onderwerp het nie; en dan in verse 19-21: “Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen ‘n onverstandige volk[17]. En Jesaja durf selfs sê[18]: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie. Maar van Israel sê Hy[19]: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ‘n ongehoorsame en teësprekende volk.” Let daarop dat Hy die heidense volke duidelik teenoor Israel stel – en nie slegs teenoor Juda nie. Dit is dus duidelik dat die Verbondsverantwoordelikheid hier van Israel weggeneem word en aan ander volke, spesifiek heidense volke (ethnos) gegee word. Uit hierdie tekste is dit onmoontlik om (soos sommige dwaalleraars) te verstaan dat die Verbond van Juda weggeneem word en net aan die verstrooide Israel teruggegee word.
- En dan die verduideliking in Rom 11 hoe die val en tekort van Israel[20] die rykdom van die heidense volke (ethnos) en die (nie-Israelitiese) wêreld geword het; en dan gebruik Hy in verse 14-17 die beeld dat Israel (en Juda) soos takke van ‘n olyfboom afgekap is sodat die heidense volke (ethnos) soos takke op die olyfboom ingeënt kon word. En dan in vers 25: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene (ethnos = heidense volke) ingegaan het”.
- Kan dit duideliker wees dat Nuwe-testamentiese volke wat deur die genade aan Koning Jesua se heerskappy onderwerp, verbondsvolke in die plek van Israel is?
- Let ook op die beklemtoning van die onveranderlikheid van God :-
- as Rom 11 afsluit met die lofprysing: “o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
- en ook in die opmerkings in Hd 15:14 dat God van die begin af uitgesien het om vir Hom ‘n volk uit die heidense volke vir sy Naam aan te neem; en ook in vers 18 dat al sy werke van ewigheid aan Hom bekend is.
- Daar is dan ook baie tekste in die Ou Testament wat dit profeteer (wat ek kan verskaf).
- Rom 11 onderskei ook baie duidelik tussen die uitbreiding van die Verbond na die heidense volke en die herstel van Israel – wat ook op baie plekke profeteer word en wat ons ook moet verwag.
- Nou is dit wel so dat die Bybel van al die gelowiges uit al die volke praat as ‘sy volk’, of as ‘Israel’. Dit is egter ‘n metafoor. Die Bybel gebruik baie hierdie spreekwyse (taalvorm) om iets te beklemtoon: God noem Hom ons Vader, maar dit beteken sekerlik nie dat ons nou ons aardse vaders moet verwerp nie! Inteendeel leer die Bybel hoe belangrik aardse vaders in God se Verbond is. Dit geld ook wanneer Christus ons sy ‘bruid’ noem; en ook wanneer Hy ons sy ‘liggaam’ noem.
- Gevolgtrekking: God se Verbond is nie net ‘n geestelike Verbond met ‘n geestelike Verbondsvolk in die Nuwe Testament nie. Nee, fisiese volke is belangrike verbondstrukture – soos ons ook in Hd 17:26,27 leer (53-vertaling): God het self die volke van mekaar geskei en grense tussen hulle gestel – sodat ons Hom in volksverband moet soek. Daarom is die onveranderlike God se Verbondsbeloftes steeds van toepassing op Verbondsvolke wat aan Christus se heerskappy onderwerp[21].
Brontekse:
[1] Dt 7:6 (tekste – tensy anders gespesifiseer, is uit die Afr ’53-vertaling: die betroubaarste Afrikaanse vertaling van die Bybel)
[2] Jes 7:17; Hos 5:3
[3] Dt 14:2
[4] Lev 26:12; Jer 7:23; 11:14
[5] Calvyn onderskei tussen die ‘algemene uitverkiesing van ‘n volk en die besondere, of tweedegraadse uitverkiesing tot saligheid. Calvyn, J, Institusie van die Christelike Godsdiens, p1164-1168 (Boek3, Hoofstuk 21, par 5-7) Vertaal deur prof.dr HW Simpson, Calvyn Jubileum Boekefonds, Potchefstroom, 1988
[6] Ps 33:12
[7] Dt 28; Jes 1; Eseg 11:20; 14:11; Hos 6:4,5
[8] Jer 3:8
[9] Mt 1:21
[10] Mt 27:25
[11] Jer 3:8; Eseg 16
[12] Jer 26:21-24; Lk 13:33-34; Hd 7:52;
[13] Belangrik om te let op hoe die Bybel deurgaans onderskei tussen die volk van Israel (in Hebreeus = ‘am’ en in die Grieks ‘laos’; en dan die nie-Israelitiese volke: Hebreeus ‘goy’ en in Grieks ‘ethnos’)
[14] Mt 27:25
[15] Let daarop dat die woord wat hier met ‘volk’ vertaal is, is ‘ethnos’. ‘Ethnos’ beteken ‘volk’ (enkelvoud) of ‘volke (meervoud)’, maar meer spesifiek ‘nie-Israelitiese volke’, of ‘heidense volke’. Dit is ook dieselfde woord wat in die sendingopdrag met ‘nasies’ vertaal is. Dit is ook dieselfde woord wat deurgaans in Handelinge en Romeine met ‘heidene’ vertaal is. Die meer korrekte vertaling sou wees: ‘heidense volke’ of ‘nie-Israelitiese volke’ – kyk Strongs Lexikon: Am H5971; Goy H1471; Laos G 2992; Ethnos G 1481
[16] Die stelling word nou gemaak dat die ‘Jode’ nie Judeërs is nie. Dit s wel so dat dat die volke van Juda en Edom geïntegreer was in die tyd van Koning Jesus op aarde, maar dit is duidelik uit die Evangelies dat hulle as God se volk beskou is – as Juda en selfs as die oorblyfsel van Israel – want baie van die Tienstammeryk het hulle by Juda aangesluit in die gruwelike tyd van Koning Agab en Isébel; en nog meer met die terugkeer uit die Babeloniese ballingskap.
[17] Dt 32:21
[18] Jes 65:1
[19] Jes 65:2
[20] Let wel – die val van Israel, nie net van Juda nie.
[21] Die gesaghebbende Vebondsteoloog, Heinrich Bullinger het in sy klassieke studie: “Die een en ewige Testament of Verbond van God” ‘De Testamento sev Foedere Dei Unico & Aeterno’ dat die inhoud van God se Verbond nie verander het met die Nuwe Testament nie. Dit is net ‘n nuwe bediening van dieselfde Verbond.