AfriForum-jeug verfraai Slag van Bronkhorstspruit-monumente

Die monumente is verwaarloos en jare lank in ’n haglike toestand gelaat voordat die tak besluit het om die monumente skoon te maak en die jeug by die land en dorp se geskiedenis betrokke te kry.

Die jeugvleuel van die AfriForum Bronkhorstspruit-tak het onlangs moue opgerol en broodnodige herstelwerk aan die Slag van Bronkhorstspruit-monumente gedoen.

Daar is twee monumente op die R25: die een herdenk die Boere en die ander die Britse soldate wat tydens die Slag van Bronkhorstspruit op 20 Desember 1880 gesterf het.

Volgens die organisasie was die monumente jare lank verwaarloos en in ’n haglike toestand voordat hy besluit het om dit skoon te maak en die jeug by die land en dorp se geskiedenis betrokke te kry.

Vanjaar is die Britse monument oorgeverf en onkruid wat oor die heining gegroei het, is by albei monumente verwyder.

Dié AfriForum-tak het ook vyf ton gruis gebruik om die monumente gelyk te maak.

Die plate is ook afgeskil en onleesbaar sodat dit herstel is sodat besoekers steeds meer oor hierdie stukkie geskiedenis kon leer.

Na al die harde werk het twee jeuglede kranse neergelê wat deur die plaaslike FAK Kultuurnetwerk geskenk is.

Magda Lewis, voorsitter van die Bronkhorstspruit-tak, het gesê hulle het hierdie monumente gekies omdat dit na aan die hart van die gemeenskap van Bronkhorstspruit lê en deel is van hul geskiedenis.

Bronkhorstspruit monument. Foto: AfriForum-webwerf
“Dit is lekker om te sien hoe die jeug ook ingespring het en eienaarskap van hul dorp en erfenis geneem het,” het Lewis gesê.

“Om al die harde werk te vier, het al die betrokkenes ná die verrigtinge ons Afrikaner-erfenis gevier deur te braai en koekies, melktert en gemmerbier te geniet.”

Jeugvleuel wat die Bronkhorspruit-monument verfraai. Foto: AfriForum-webwerf
Llewellynn Hemmens, AfriForum-distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, het gesê hierdie inisiatief is maar een van die vele wat AfriForum in Bronkhorstspruit aanpak om ‘n dorp te bou waarop alle lede van die gemeenskap trots kan wees.

As jy betrokke wil raak, besoek www.wordlid.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui