Die beraamde tyd vir die herstel van elektrisiteit sal gekommunikeer word sodra die grootste deel van die herstelwerk voltooi is.
Dele van Rooiwal, noord van Pretoria, is sonder elektrisiteit gelaat ná ‘n brand by die Pyramid-substasie.
Na verneem word, het die brand die substasie Woensdag in die vroeë oggendure ontstaan.
Selby Bokaba, woordvoerder van die stad Tshwane, het gesê die brand het die 132kv Lyn 1 Bellom-Parktown laat val, wat ‘n onderbreking na die Pretoria-Noord, Wonderboom, Wolmer, Pyramid, Pumulani, Koedoespoort en dele van Waltloo-substasies veroorsaak het.
“Al die geaffekteerde substasies is nou teruggeskakel, behalwe die Pyramid Substasie, wat af sal bly totdat die herstelwerk voltooi is,” het Bokaba gesê.
Bokaba het bygevoeg dat die oorsaak van die brand nog nie vasgestel is nie.
“Tans is slegs die Rooiwal-rioolaanleg en huishoudings rondom die Piramide-substasie deur die kragtoevoeronderbreking geraak. Ons tegnici sal die hele dag werk om te verseker dat kragtoevoer na die geaffekteerde gebiede herstel word.
“Die stad is bedag daarop dat kliënte wat vanaf die substasie gevoed word ‘n verduistering ervaar en sal op hoogte gehou word van vordering met betrekking tot die herstelwerk wat aan die gang is,” het Bokaba gesê.
Bokaba het gesê die beraamde tyd vir die herstel van elektrisiteit sal gekommunikeer word sodra die grootste deel van die herstelwerk voltooi is.
“Die stad vra die geaffekteerde inwoners om verskoning vir die ongerief wat deur hierdie onvoorsiene gebeurtenis veroorsaak is. Verbruikers sal op hoogte gehou word van die verwikkelinge.”
In Augustus is groot dele van Pretoria in die donker gelaat, ná ‘n ontploffing en brand by die Njala-substasie naby die Delmas-pad.
Baie dele van die stad, van Pretoria-Oos tot by die Moot, is sonder krag gelaat, insluitende die gebied van Moreletapark tot Villieria. ‘n Eenheid is na die toneel gestuur en het die brand vinnig geblus. ’n Span tegnici van die departement van energie en elektrisiteit is ook na die toneel gestuur en het daarin geslaag om die fout te isoleer.