Oos-Kaapse ontvoeringsbeproewing: Dit blyk dat Alize van der Merwe nie die enigste slagoffer was wat deur die ontvoerders aangehou is nie.
In ‘n verrassende wending tot die skok-ontvoering van Alize van der Merwe verlede Vrydag op die N2 in die Oos-Kaap, het dit aan die lig gekom dat sy in werklikheid een van twee vroue was wat deur die ontvoerders gevange gehou is.
Die 39-jarige Kapenaar is op Vrydagmiddag 20 September op die N2 van Oos-Londen na die Umngazi-oord in Port St Johns aan die Wildekus ontvoer.
Van der Merwe het vroeër die oggend van Kaapstad na Oos-Londen gevlieg. Haar huurvoertuig – ’n wit Toyota Fortuner – is die aand verlate tussen Dumasi en die gewilde Port St Johns-oord gevind.
Kaptein Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke Oos-Kaap, het aan The Citizen bevestig dat die vakansieganger en ‘n naamlose 34-jarige vrou Donderdag in die omgewing van ‘n polisiestasie 105 km van Port St Johns afgelaai is.
Volgens Mgolodela is die vroue na bewering vandeesmaand in afsonderlike voorvalle ontvoer.
Die tweede ontvoeringslagoffer, ‘n besoeker aan die gebied uit China, is drie dae voor Van der Merwe op die pad tussen Barkly-Oos en Elliot geneem.
“Dit lyk of hulle op een plek gehou is.”
“Die slagoffers is omstreeks 12:15 deur die verdagtes wat ‘n wit Toyota-enkelkajuitbakkie naby die Sulenkama-polisiestasie bestuur het, afgelaai.
The Citizen het vroeër berig ’n losprys-eis is vir Van der Merwe gestel.
Mgolodela het gesê aangesien die ondersoek aan die gang is, is die enigste inligting wat sy in hierdie stadium kan bekend maak dat die vrylating gekom het as gevolg van “druk” uitgeoefen deur die taakspan wat onderhandelaars ingesluit het.
Die twee vroue is glo in ‘n getraumatiseerde toestand gevind en na die naaste hospitaal geneem vir mediese aandag.
Die saak word nog deur die Valke ondersoek.
Vroeër vandeesmaand is die vasgebinde lyk van ‘n ontvoeringslagoffer langs die N2 tussen Oos-Londen en Qonce (voorheen King William’s Town) gevind.
Die man het op 8 September in Cambridge vermis geraak.
Volgens polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Siphokazi Mawisa, is sy verlate Hyundai Avanza langs die pad op die N2 in die rigting van Qonce gevind met twee beskadigde bande.
DispatchLIVE het berig dat die man se bene en hande vasgebind is en dat sy liggaam veelvuldige steekwonde gehad het.