Geliefde ATKV voorsitter, Francois Furstenburg verloor stryd teen kanker

Furstenburg los ‘n groot leemte in die gemeenskap van Heidelberg.

‘n Geliefde inwoner, wat deur die jare diep spore in die dorp getrap het, is op 26 September oorlede.

Francois Furstenburg (88) is versorg by die Silwerakker Eenheid by Suikerbosoord nadat hy onlangs weer met kanker gediagnoseer was.

Furstenburg, of Oom Francois soos wat almal hom geken het, was vanaf 2012 betrokke by die ATKV Heidelberg-tak en het ook as voorsitter gedien.

Hy was vir 14 jaar in remissie maar kanker is vroeër die jaar weer by hom gediagnoseer.

Die HERAUT het in die uitgawe van 11 Maart ‘n onderhoud met hom gehad waar hy staaltjies oor sy interessante lewe gedeel het. (Prontuit: Die Heraut gesels met Francois Furstenburg)

Hy laat sy vrou Anelia, ses kinders, 13 kleinkinders en sewe agterkleinkinders na.

‘n Huldeblyk aan hom sal in die HERAUT verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui