Die polisie het gesê afpersing bly ‘n topprioriteit en het slagoffers aangemoedig om na vore te kom en enige voorvalle aan te meld.
Drie vermeende afpersers is tydens ‘n skietgeveg met die polisie op Bosmansdamweg in Bothasig, Kaapstad, doodgeskiet.
Lede van die Provinsiale Operasionele Bevelsentrum se Gevegspan het Woensdag vier ander gewond en in hegtenis geneem.
Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê die insittendes van ‘n minibustaxi het glo geld van winkeleienaars in Du Noon afgepers.
“Toe hulle op die intelligensie reageer, is die verdagtes gesien waar hulle uit die gebied vlug. Tydens ‘n agtervolging in Bosmansdamweg het die verdagtes met ‘n aanvalsgeweer op twee polisievoertuie losgebrand. Die polisie het teruggekap en daarin geslaag om die voertuig op die hoeke van Bosmansdam- en Wylandsweg tot stilstand te bring.
“Die aanvalsgeweer, ‘n 9 mm-pistool, ‘n onbekende bedrag kontant, sowel as die minibustaxi is gekonfiskeer. Terwyl die beseerde verdagtes onder polisiebewaking in die hospitaal behandel word, soek speurders leidrade om die aanklagte teen die verdagtes voor te berei vir hul naderende hofverskynings. Die identiteite van die verdagtes moet nog vasgestel word,” het Traut gesê.
Traut het gesê geen polisiebeamptes of lede van die publiek is tydens die voorval beseer nie.
In ‘n afsonderlike voorval is vier beweerde konstruksie-mafia-verdagtes geskiet en gewond toe hulle probeer het om ‘n konstruksieprojek in Natal te stuit.
Die skietgeveg het glo Woensdag by ‘n konstruksieterrein op O’Flahertyweg in Sydenham, Durban, plaasgevind.
Polisiewoordvoerder, kolonel Robert Netshiunda, het bevestig dat die vier vermeende afpersers onder polisiebewaking by ‘n hospitaal is.
“Inligting in hierdie stadium dui daarop dat vyf mans na ‘n konstruksieterrein op O’Flahertyweg in Sydenham gegaan het waar daar ‘n pad gebou is. Die verdagtes het glo ’n sekere bedrag geld van die eienaar van die konstruksiemaatskappy geëis.
“Met die verdagtes wat die konstruksiewerkers geteister het wat die geld geëis het, is ‘n sekuriteitsmaatskappy na die terrein ontbied en ‘n argument het ontstaan wat gelei het tot ‘n skietgeveg wat vier vermeende afpersers beseer gelaat het,” het Netshiunda gesê.
Netshiunda het gesê die vier verdagtes is vir afpersing in hegtenis geneem en sake van poging tot moord is ook geopen.
“Vier gelisensieerde vuurwapens is in die besit van die verdagtes gevind en daar is ook op hul twee voertuie beslag gelê. Die verdagtes, tussen 38 en 48 jaar oud, sal in die hof verskyn wanneer hulle uit die hospitaal ontslaan word.”
Die polisie het gesê afpersing bly ‘n topprioriteit en het slagoffers aangemoedig om na vore te kom en enige voorvalle by hul naaste polisiestasie aan te meld.