SANParke-gids gearresteer vir die besit van onwettige jaggeweer by KNP

Die gids sal ook as werknemer ‘n interne dissiplinêre verhoor in die gesig staar

’n Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) wildernisroetegids is gearresteer vir die besit van ’n onwettige jaggeweer binne die Krugerwildtuin (KNP).

Die arrestasie is Woensdag tydens ‘n intelligensie-gedrewe operasie deur die SANParke se omgewingsondersoekeenheid en die SAPD se taktiese reaksiespan gemaak.

Die gids sal ook as werknemer ‘n interne dissiplinêre verhoor in die gesig staar.

“Terwyl die feit gerespekteer word dat die werknemer as onskuldig beskou moet word totdat hy skuldig bevind word, vestig SANParke die aandag daarop dat dit altyd sy werknemers daarteen waarsku om hulself nie by kriminele dade te betrek nie, aangesien die organisasie ‘n “no-nonsense” beleid teen sulke dade toepas,” het Ike Phaahla, SANParke-woordvoerder gesê.

Ondersoeke is aan die gang.

SANParke verwelkom stropervonnis
Einde verlede maand is Simon Ernesto Valoi, ook bekend as ‘Navara’, die stropersindikaatleier en -koning, tot 27 jaar tronkstraf gevonnis deur ‘n Mosambiekse hof.

Sy makker, Paulo Zukula, het is 24 jaar tronkstraf opgelê.

Volgens SANParke is Valoi, wat van Massingir afkomstig is – ’n distrik sowat 330 km noord van Maputo op die grens langs die KNP – een van die renosterstropingsbase wat daarvoor bekend is dat hulle die park teiken.

Die hof het Valoi en Zukula skuldig bevind aan misdade wat verband hou met die finansiering van terrorisme, stropery, die verkoop van beskermde spesies, geldwassery, die gebruik van verbode wapens, die gebruik van vervalste dokumente, die verkoop en aankoop van onwettige wapens en voertuie, en kriminele sameswering.

“Sy rykdom en gewildheid as ’n werwer van jong mans van sy huis, wat hy oor die grens sou stuur om renosters te jag, het hom vir ’n lang tyd van vervolging beskerm totdat hy uiteindelik in Julie 2022 gearresteer is,” sê SANParke.

“Valoi en Zukula is deur die Nasionale Kriminele Ondersoekdiens (SERNIC)-beamptes in Maputo aangekeer ná ’n gekoördineerde intelligensie-operasie met die Wildlife Justice Commission, wie se missie is om georganiseerde misdaadnetwerke wat handel in wild, hout en visse te ontwrig en te help aftakel.”

Tydens hul arrestasie het owerhede beslag gelê op renosterhorings.

Daar word ook berig dat verskeie van Valoi se familielede aangehou is omdat hulle die georganiseerde misdaadnetwerk bygestaan ​​het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui