‘n 55-jarige vrou van Kloofsig Centurion, is beseer toe sy diewe Woensdagoggend op heterdaad betrap het wat probeer het om haar motorfiets te steel
’n 55-jarige vrou is vroeg Woensdagoggend beseer terwyl sy die diefstal van haar motorfiets by haar huis in Kloofsig probeer keer het.
Volgens Lyttelton GPF sektor twee patrollie koördineerder, Jacques van Staden, is ‘n noodoproep omstreeks 04:30 op die KROC netwerk gedeel.
Van Staden het gesê die oproep was om bystand te versoek om die diefstal van ‘n motorfiets by ‘n residensiële eiendom in die Kloofsig-omgewing te voorkom.
Hy het bygevoeg dat kort ná die oproep nood mediese bystand na die toneel versoek is.
Polisie, patrolleerders, gemeenskapslede en sekuriteitsbeamptes het dadelik gereageer.
Hy sê toe hulle op die toneel aankom, is gevind dat ‘n 55-jarige vrou matige beserings opgedoen het.
“Sy is op die toneel gestabiliseer en hospitaal toe geneem.”
Veiligheidsbeamptes en polisie van Lyttelton SAPD het die verdagtes se voertuig wat teen hoë spoed gevlug het, agternagesit.
Hy sê die motorfiets is teruggevind nadat die verdagtes gevlug het.
“Dankie aan alle respondente sowel as Lyttelton SAPD vir hul ongelooflike omkeertyd.”
CERT vrywillige nooddienste het gesê die aanvallers het na bewering die vrou aangerand toe sy hulle betrap het terwyl hulle probeer het om ‘n motorfiets te steel.
Daar word gesê die pasiënt is in ‘n stabiele toestand na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer.
Rekord het na die SAPD uitgereik, maar het teen tyd van publikasie nog geen reaksie ontvang nie.
