Metropolisie en privaat sekuriteitspersoneel het na die bloedige toneel gejaag van ‘n vroeë oggendskietery by ‘n eetplek in Floridaweg.
’n Gewilde eetplek in Durban se Floridaweg in Morningside is Dinsdag in die vroeë oggendure geruk deur ’n polisiebeampte wat nie aan diens was nie en sy meisie doodgeskiet het.
Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS-paramedici, het gesê met hul aankoms op die toneel omstreeks 01:00 het paramedici vier mense gevind wat op die restaurant se vloer gelê het.
Die oorlede vrou, vermoedelik in haar dertigs, het verskeie skietwonde opgedoen.
Volgens KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, het die polisiebeampte van diens af na sy meisie se werkplek gegaan.
“Daar word beweer die vrou het uitgegaan om hom te ontmoet – net vir hom om sy dienspistool te trek en skote op haar af te vuur.
“Die slagoffer het terug die restaurant gevlug en die man het haar gevolg terwyl hy voortgegaan het om te skiet. Sy is op die toneel dood verklaar.”
Twee mans het ook skietbeserings aan hul bolyf tydens die dodelike voorval opgedoen en is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer vir verdere sorg.
Netshiunda het gesê metropolisiebeamptes wat die gebied gepatrolleer het, het die voorval aanskou en gereageer. Die verdagte is ook geskiet en hospitaal toe geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het.
“Die vermeende verdagte was in ’n kritieke toestand en het verskeie skietwonde opgedoen. Hy is na die hospitaal gehaas waar hy ‘n rukkie later oorlede is.
“In hierdie stadium is die gebeure wat tot die skietery gelei het, onbekend. Daar word egter beweer dit was ‘n huishoudelike dispuut,” het Jamieson gesê.
Netshiunda het bevestig dat die polisie in Berea sake van moord en poging tot moord ondersoek.