ACSA bevestig sterftes by OR Tambo en King Shaka Internasionale Lughawens

Die polisie ondersoek albei voorvalle

Twee mense is dood in afsonderlike voorvalle by OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg en King Shaka Internasionale Lughawe in Natal.

Lughawensmaatskappy Suid-Afrika (ACSA) het die sterftes laat Saterdagaand bevestig.

Ernest Mulibana, woordvoerder van Acsa, het gesê albei voorvalle word ondersoek.

“Beamptes by OR Tambo het om 15:10 ‘n oproep ontvang wat berig het dat ‘n persoon van parkeervlak 5 na die grondvlak geval het. Wetstoepassers en lughawe-gesondheidsbeamptes wat by die 24-uur-kliniek gestasioneer is, is onmiddellik van die voorval verwittig. Paramedici het later opgedaag en die ongeïdentifiseerde reisiger op die toneel dood verklaar.

“ACSA kan ook bevestig dat ‘n ongeïdentifiseerde manlike passasier by King Shaka Internasionale Lughawe oorlede is. Die passasier het glo by die terminale se binnelandse aankomsgebied ineengestort. Nooddienste is dadelik ontbied en hom versorg, maar hy is ongelukkig op die toneel dood verklaar,” het Mulibana gesê.

Mulibana het bygevoeg dat die oorsaak van dood in albei voorvalle nog onbekend is.

“Ons kan bevestig dat die saak aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig is en dat ‘n geregtelike doodsondersoekdossier vir verdere ondersoek geopen is. ACSA betuig innige meegevoel met die families en geliefdes van beide reisigers gedurende hierdie moeilike tyd.”

Vlugte hervat
Intussen het vlugte by die King Phalo-lughawe in Oos-Londen hervat nadat pandemonium op die lughawe Vrydag te midde van somber weerstoestande tesame met navigasiestelselprobleme dit onmoontlik gemaak het vir enige vlugte om by die fasiliteit te land of op te styg.

Unathi Binqose, woordvoerder van die Oos-Kaapse vervoerdepartement, het gesê dosyne reisigers is gestrand en gefrustreerd gelaat.

“Weerstoestande het aansienlik verbeter; die lug het opgeklaar en vlugte is terug in die lug. Ons kollegas by ATNS [Air Traffic Navigation Services] werk die hele dag om hul navigasiestelsel-uitdagings op te los.”

Acsa het verlede week gesê ses vlugte is gekanselleer en twee ander is Woensdag vertraag weens strawwe weerstoestande en die opskorting van sekere instrumentvlugprosedures by King Phalo-lughawe.

Instrument navigasie
Verlede maand het ATNS prosedures vir alle instrument-navigasievlugbenaderings by lughawens in George, Kimberley, Polokwane, Mthatha en Richardsbaai onbepaald opgeskort.

Die skorsing het vlugte na dié lughawens geraak.

Barbara Creecy, minister van vervoer, het ATNS twee weke gegee om die navigasie-opskorting by die lughawens op te los.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui