Opvolg: Pravin Gordhan, voormalige minister van openbare ondernemings, sterf

Die voormalige minister van openbare ondernemings en die stigterskommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) Pravin Gordhan is dood.

Gordhan se familie het in ‘n verklaring bevestig hy is Vrydag in die vroeë oggendure vreedsaam in die hospitaal oorlede, omring deur sy familie, naaste vriende en sy lewenslange Comrades in die bevrydingstryd.

Hy was 75 jaar oud.

“Dit is met diepe hartseer dat die Gordhan-familie die afsterwe van voormalige minister Pravin Gordhan aankondig,” het sy familie gesê.

Gordhan is Dinsdag in die Wits Donald Gordon Mediese Sentrum in Johannesburg opgeneem ná ’n onlangse kankerdiagnose.

Die voormalige minister word oorleef deur sy vrou Vanitha, en sy dogters, Anisha en Priyesha.

Die Gordhan-gesin het versoek dat hul privaatheid in hierdie moeilike tyd van hartseer gerespekteer word.

“Begrafnisreëlings en die besonderhede van ’n media-inligtingsessie deur die Ahmed Kathrada-stigting, namens die Gordhan-familie, sal mettertyd aangekondig word.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui