Pravin Gordhan, voormalige minister van openbare ondernemings, is in die hospitaal opgeneem, het sy familie gesê.
’n Kort verklaring Dinsdagaand, wat namens die voormalige minister se familie uitgereik is, sê hy ontvang “die beste beskikbare mediese sorg”. Dit het nie verdere besonderhede oor sy toestand gegee nie.
“Die familie het in hierdie moeilike tyd privaatheid versoek,” het dit gelui.
Opdaterings sal mettertyd gegee word, het die verklaring bygevoeg. Gordhan het in Maart aangekondig dat hy ná die Mei-verkiesing gaan uittree. ’n Jaar gelede moes die Parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings sy vergadering met Gordhan kanselleer weens sy swak gesondheid. Gordhan het destyds aan die komitee gesê ’n spesialisdokter het hom aangeraai om nie per lug te reis nie.
Gordhan, ‘n opgeleide apteker, is ‘n struggle-veteraan wie se loopbaan as politikus en aktivis meer as vyf dekades voor sy aftrede gestrek het.
Ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het Gordhan in verskeie regeringsposisies gedien voordat hy hom in 1998 by die SAID aangesluit het. Hy het die volgende jaar die kommissaris daarvan geword en sy dekade lange diens by die agentskap is wyd geloof. In daardie tyd het hy ook internasionale erkenning ontvang met sleutelaanstellings op verskeie forums en komitees by die Wêreld Doeane-organisasie en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling.
In Mei 2009 het oudpresident Jacob Zuma Gordhan as minister van finansies aangestel, wat Trevor Manuel opgevolg het.
Gordhan het ‘n sleutelrol gespeel om Zuma se pogings om beheer oor die nasionale tesourie aan die Guptas oor te gee teen te staan, het die staatskaping-ondersoek bevind.
In Mei 2014 is hy deur Nhlanhla Nene as minister van finansies vervang – wat toe binne ’n jaar deur Zuma afgedank is omdat hy nie ’n kernkragooreenkoms gesteun het nie.
Ná ’n kort en rampspoedige aanstelling van die onbekende figuur Des van Rooyen het Zuma Gordhan teësinnig weer as minister van finansies aangestel.
Gordhan moes toe selfs meer aggressiewe pogings om die tesourie vas te trek afweer, en het lof gewen vir sy aandrang om staatshulpbronne te verdedig – ondanks die feit dat hy deur die ANC en die kabinet, die nasionale vervolgingsgesag en die Valke gejaag is.
In 2017 het Zuma Gordhan afgedank en hom met Malusi Gigaba vervang. Gordhan is in 2018 deur die nuutaangestelde president Cyril Ramaphosa na die kabinet teruggebring.
Terwyl hy wyd bewonder word vir sy werk as hoof van die SAID en sy weerstand teen staatskaping, is Gordhan se nalatenskap versuur deur sy ses jaar as minister van openbare ondernemings.
Afgesien van die voortgesette ellende by Eskom, het Transnet in hierdie tyd ‘n aansienlike agteruitgang beleef. Gordhan is ook gekritiseer vir ‘n omstrede besluit om 51% van die SAL vir R1 aan die Takatso-konsortium te verkoop, wat veronderstel was om R3 miljard in die onderneming te spuit. Die ooreenkoms, wat in 2021 aangekondig is, is vroeër vanjaar finaal geskrap.
Dit is ‘n ontwikkelende storie.