’n Brand veroorsaak verwoesting by die Bethlehem-lugskou in die Vrystaat, waar verskeie motors in vlamme opgegaan het.
Ten tyde van publikasie kon daar nie vasgestel word hoe die brand ontstaan het nie.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en SAPD is op die toneel, met plaaslike boere wat help om die brand te blus.
Die Bethlehem Air-skou is ‘n jaarlikse geleentheid wat daarop gemik is om toeriste na die streek te lok.
Jankielsohn meen die Dihlabeng-munisipaliteit, wat een van die hoofrolspelers in die geleentheid is en op wie se eiendom die ramp plaasgevind het, moet verantwoordelikheid aanvaar vir die brand en die skade wat aangerig is.
“Die munisipaliteit het nie die nodige risiko-assessering voor die geleentheid uitgevoer nie. Die bedreigings wat deur hoë volumes verkeer en droë oop veld ingehou word, is nie geïdentifiseer nie.
“Dit is nie ongewoon dat mense tydens hierdie jaarlikse geleentheid langs voertuie ‘braai’ nie; daar is veral baie omstanders wat gewoonlik die geleentheid van buite die lokaal dophou.”
Volgens Jankielsohn het die DA-koukus voorheen sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan brandbestrydingstoerusting in die munisipaliteit wat die dorpe Bethlehem, Clarens, Fouriesburg, Paul Roux en Rosendal bedien.
“Dit is ook onduidelik of die nodige prosedures ingestel is vir die geleentheid wat omvattende gebeurtenisversekering insluit.”
Jankielsohn sê die Bethlehem-lugskou bly ʼn indrukwekkende geleentheid wat ʼn broodnodige hupstoot vir toerisme en bemarking, asook ander ekonomiese voordele vir die munisipaliteit en die provinsie inhou.