Uit die bloute: Verkeer is tot stilstand gebring toe ‘n klein vliegtuig gedwing is om ‘n noodlanding in ‘n Port Elizabethvoorstad te maak.
Dit blyk dat selfs vlieëniers deesdae bang behoort te wees vir Suid-Afrika se berugte slaggate.
Dit nadat ‘n vlieënier en sy twee passasiers ‘n lewensgevaarlike noodlanding oorleef het – net om ‘n slaggat te tref en die vliegtuig te vernietig in ‘n verstommende voorval in Algoa Park, Gqeberha, Donderdag.
Die 75-jarige vlieënier was omstreeks 16:00 gedwing om ‘n noodlanding in Ysterhoutstraat uit te voer weens min brandstof in sy Piper PA-32RT.
“Ongelukkig het ‘n slaggat en spoedhobbel in die pad die vliegtuig laat swaai en dit het ‘n lamppaal getref,” het polisiewoordvoerder Kaptein Andre Beetge gesê.
Die vliegtuig se vlerke en stertgedeelte is met impak beskadig.
Die vlieënier en twee manlike passasiers, onderskeidelik 33 en 43 jaar oud, het ongedeerd uitgekom. Wonder bo wonder is geen voetgangers of verkeer op die pad deur die “landingsvoorval” geraak nie.
Een van die eerste mense op die toneel was Marius Minnie van EC Towing, wat in Dolfyn Flats op die straathoek woon waar die vliegtuig geval het.
“Ons het ‘n groot slag gehoor. Ek was eerste op die toneel met my wegsleeptrok. Guardmed was langsaan om met enige pasiënte te help,” het hy aan Algoa FM gesê.
Minnie het gesê die vlieënier en sy passasiers was in ‘n toestand van skok.
Die Ongevalle- en Insidente Ondersoek Afdeling (AIID) het bevestig dat hy in kennis gestel is van die ongeluk waarby ‘n Piper PA-32RT in Port Elizabeth betrokke was.
Volgens inligting wat ingesamel is van eerste reageerders van die Lugvaart-reddingskoördineringsentrum, het die vlieënier kommunikasie met die Port Elizabeth-toringfrekwensie bewerkstellig tydens die nadering.
Die vlieënier het hulle meegedeel dat die vliegtuig min brandstof het.
“Kort daarna het kommunikasie tussen die vlieënier en die lugverkeerbeheerders verlore gegaan. Dit is waarskynlik as gevolg van ‘n enjinstop,” het die AIID gesê.
Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) sal na verwagting die oorsaak van die vliegtuigongeluk ondersoek.
