Die EMPD in samewerking met Gauteng Spesiale Wetstoepassingseenheid het die verdagtes Donderdag in Kempton Park aangekeer.
Die Ekurhuleni-metropolisiedepartement (EMPD) het vyf mense, insluitend vier buitelanders, gearresteer vir die vervaardiging van vals dokumente.
Die EMPD in samewerking met Gauteng Spesiale Wetstoepassingseenheid het die twee Malawiërs, twee Nigeriërs en ‘n Suid-Afrikaner Donderdag in Kempton Park aangekeer.
Valse dokumente
Na verneem word, lewer die verdagtes vals polisieklaringsertifikate, bestuurslisensies, matrieksertifikate, vuurwapenbevoegdheidsertifikate, betaalstrokies, sigwaardedokumentasie en mediese sertifikate aan kopers.
Zweli Dlamini, EMPD-woordvoerder, het gesê die owerhede het ‘n wenk ontvang oor ‘n sindikaat wat met vals dokumente handel.
“Met hul aankoms by Flavour Shop op die hoek van Voortrekker- en Pretoriaweg het hulle toerusting gevind waaronder ‘n fotostaatmasjien, faks en ander toerusting wat vermoedelik in die vervaardiging van die vals dokumente gebruik is.
“Daar is ook op ’n aantal vals dokumente beslag gelê. Tydens die inhegtenisnemings het een van die verdagtes probeer om die polisie met R1 000 om te koop om hulle vry te laat, tevergeefs,” het Dlamini gesê.
Hofverskyning
Dlamini het gesê die verdagtes is by die Kempton Park-polisiestasie aangehou.
“Hulle sal na verwagting binnekort in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, uitlating en omkopery.
“Die EMPD prys die beamptes vir hul moed en uitstekende werk om wetteloosheid uit te roei, en sal niks keer om misdaad in Ekurhuleni uit te roei nie,” het Dlamini gesê.
Valse goedere
Intussen het die polisie beslag gelê op vervalste goedere ter waarde van meer as R94 miljoen en vyf buitelanders in verskillende dele van die land in minder as drie weke in hegtenis geneem.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was meedoënloos in sy pogings om die onwettige handel in vervalste en smokkelgoedere regoor die land te ontwrig en te beëindig.
Die klopjag is uitgevoer deur die SAPD en verskeie wetstoepassingsagentskappe, insluitend die Valke, die departement van binnelandse sake, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Brand Protectors en private sekuriteitsmaatskappye.
Polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Amanda van Wyk, het gesê die polisie sal voortgaan om die onwettige handel in nagemaakte goedere te bekamp, ”om wettige besighede en verbruikers te beskerm wat onderwerp word aan substandaardprodukte wat gesondheids- en veiligheidsrisiko’s inhou”.