Voor sy onlangse arrestasie is Panday saam met agt ander aangekla, insluitend die voormalige polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Mmamonnye Ngobeni.
Die Durbanse sakeman Thoshan Panday sal ná sy inhegtenisneming op aanklagte van belastingbedrog agter tralies bly tot sy volgende hofverskyning.
Panday het Donderdag in die Durbanse landdroshof verskyn.
Die 51-jarige staan tereg op 27 aanklagte van bedrog, alternatiewelik oortredings van belastingwetgewing wat vals opgawes ten opsigte van BTW en jaarlikse inkomstebelasting verbied.
Inhegtenisneming
Henry Mamothame, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat beoog om die borgtog teen te staan.
Panday is voor sy inhegtenisneming saam met agt ander, insluitend die voormalige polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Mmamonnye Ngobeni, van rampokkery, bedrog en korrupsie aangekla. Hierdie saak is aan die gang.
“Die staat voer aan dat Panday effektief in beheer was van verskeie entiteite wat betalings van die Suid-Afrikaanse Polisiedienste (SAPD) ontvang het in ‘n bedrag van ongeveer R47 miljoen weens ‘n korrupte verhouding met lede van die Voorsieningskettingbestuursafdeling van die SAPD. ” het Mamothame gesê
“Hierdie betalings is na bewering gemaak ten opsigte van dienste gelewer aan die SAPD voor en tydens die Sokkerwêreldbeker in 2010.”
Belastingbedrog
Mamothame het gesê Panday staar nou belastingbedrog in die gesig as gevolg van die indiening van belastingopgawes ten opsigte van die entiteite wat hy beheer het wat na bewering betalings van die SAPD gedurende die 2010 en 2011 belastingjare ontvang het.
“Nadat die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie (IDAC) sy ondersoeke na die belastingnakoming van die entiteite wat deur Panday beheer uitgebrei het, het belastingondersoeke wat deur die SAID gedoen is, aan die lig gebring dat verklarings wat in die belastingopgawes gemaak is, vals was.”
Mamothame het bygevoeg dat daar beweer word dat die SAID benadeling van ongeveer R 7,3 miljoen gely het as gevolg van hierdie vals belastingverklarings.
“Om uitvoering te gee aan ‘n hele-regering-benadering deur finansiële misdade, insluitend belastingmisdaad, saam aan te spreek, werk die SAID en die IDAC saam om vrywillige belastingnakoming te verbeter deur nie-nakoming moeilik en duur te maak,” het Mamothame gesê.