Die verslag is begin na aanleiding van die ouditeur-generaal se 2021/22-verslag en minister Solly Malatsi het dit vir ‘n kriminele ondersoek verwys.
’n Forensiese verslag wat verbysterende vlakke van bedrog by Postbank onthul, is na die Valke verwys.
Die verslag is vroeër vandeesweek tydens ‘n portefeuljekomiteevergadering aan minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Solly Malatsi, oorhandig .
Die verslag beskryf bestuur en finansiële oortredings by die staatsbeheerde entiteit (SOE) ter waarde van sowat R90 miljoen.
Beweerde diefstal en bedrog by Postbank
Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika se verslag van die 2021/22-boekjaar het eerste die moontlike bedrieglike aktiwiteite by Postbank ontbloot.
Die ouditeursfirma KPMG is toe getaak om die OG se bevindings te ondersoek, met Malatsi wat die verslag na die Direktoraat van Prioriteitsmisdaadondersoek verwys het.
“Die KPMG-verslag oor Postbank onthul skrikwekkende bedrog. Ons sal die volle mag van die wet gebruik om enigiemand te beveg wat burgers durf beroof,” het die minister gesê.
“Ek verwag beslissende optrede om te verseker dat openbare entiteite eties en met integriteit bestuur word tot voordeel van ons burgers, en nie misdadigers nie,” het hy bygevoeg.
Postbank bied ‘n magdom bankdienste aan die publiek en is ook ‘n primêre verspreider van Sassa-toelaes.
Malatsi het ook die SOE se direksie opdrag gegee om aanbevelings te implementeer wat in die forensiese verslag uiteengesit word.
Poskantoor staar likwidasie in die gesig
In dieselfde portefeuljekomiteevergadering is onthul dat die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) ‘n likiditeitskrisis in die gesig staar.
Die SOE kan reeds volgende maand sonder geld opraak en Malatsi se Demokratiese Alliansie (DA) kollegas het ‘n beroep op hom gedoen om die hulp van die private sektor te soek.
DA-woordvoerder vir die portefeulje kommunikasie en digitale tegnologie het voorgestel dat “gesprekke met potensiële vennote in die private sektor begin word om geleenthede vir samewerking, belegging en bestuur” van die Sapo te ondersoek.
Die nasionale posdiens het sedert 2014 nagenoeg R30 miljard se reddingsboei ontvang, insluitend ’n R2,4 miljard-versekering wat die entiteit verlede jaar onder sakeredding geplaas het.