Wyk 1-raadslid Leon Kruyshaar beweer die grondboontjiebotter is met die hand in bottels opgeskep en dat die gehalte van die bestanddele en masjinerie wat gebruik is skokkend was.
Ná die klopjag op ’n onwettige grondboontjiebotterfabriek in Zandfontein, sê die metro se gesondheidsdepartement sy omgewingsgesondheidspraktisyns (EHP) speel ’n belangrike rol in die stad se voedselveiligheid.
Die gesamentlike spesiale operasie het die aand van 29 Augustus in Zandfontein 317-JR, wat in Streek 3 van die metro val, plaasgevind.
Die rolspelers het die EHP’s, SAPD en die Tshwane Metropolisiedepartement ingesluit.
Die klopjag was die eerste van sy soort in Streek 3. Die inspeksies het onwettige voedselpersele ontdek wat grondboontjiebotter gemaak het sonder die nodige Sertifikaat van Aanvaarbaarheid.
“Die departement van gesondheid doen roetine-inspeksies van bekende voedselpersele in die stad. Waar voedselpersele nie aan gesondheidsregulasies voldoen nie, word statutêre kennisgewings, boetes en verbodskennisgewings uitgereik aan die persoon in beheer van sodanige voedselperseel.
In die geval van die betrokke onwettige perseel is vyf boetes ter waarde van R15 000 aan die eienaar/persoon in beheer van die kosperseel uitgereik. Boonop is die perseel verbied om te bedryf totdat aan alle relevante vereistes voldoen is,” het Natashia Chhiba, woordvoerder van die Tshwane-gesondheidsdepartement, gesê.
Die departement meen sy pogings, saam met dié van mede-belanghebbendes, demonstreer die noodsaaklike rol wat hulle speel in die behoud van voedselveiligheid in die metro.
EHP’s voer hul voedselveiligheidsmandaat uit deur gereelde voedselveiligheidsnakomingsinspeksies van persele, insluitend skole, restaurante en regeringsvoedselfasiliteite.
Kennisgewings en boetes word uitgereik in terme van nie-nakoming en kan verbodsbevele insluit om besighede te sluit.
Die departement bied opleiding oor die beginsels en praktyke van voedselveiligheid en higiëne aan vir voedselhanteerders en persone in beheer van voedselpersele.
Die departement is baanbrekers by die Tshwane Meat Coordinating Forum (TMCF), ‘n multidissiplinêre en adviesliggaam wat werk om toegang tot kwaliteit vleis en vleisprodukte te verseker wat heilsaam, veilig is en wat aan wetgewende vereistes voldoen.
Wyk 1-raadslid, Leon Kruyshaar, wat aan die klopjag deelgeneem het, het gesê dit is net die begin en dat hulle van voorneme is om nog baie persele in die omgewing te inspekteer.
“Ons sal nie ophou nie, ons gaan al hierdie winkels in die streek besoek. As jy enige van hierdie produkte in jou huis het, gooi dit asseblief weg, dit is ‘n ernstige gesondheidsrisiko,” het hy gesê.
Die raadslid het gesê die plek is voorgehou as ‘n kerk, waar die onwettige goedere aan die agterkant vervaardig word.
Kruyshaar het die gesondheidstoestande as uiters sleg beskryf en gesê die grondboontjiebotter is met die hand in bottels opgeskep en dat die gehalte van die bestanddele en masjinerie wat gebruik is skokkend is.
“Om te dink dat hierdie kos dit by ons tafels, wyk 1, 55, 54 … ens maak, is baie skrikwekkend. Die gesondheidstoestande hier is verskriklik,” Kruyshaar.
Die perseel het die metro se grondgebruiksregte oortree om ‘n besigheid te bedryf wat nie vir daardie doel gesoneer is nie.