Die Kabinet het verlede Vrydag die departement se voorstel goedgekeur om die nuwe slimkaarte te vervaardig en uit te rol.
Die proses om ‘n bestuurslisensie-slimkaart in Suid-Afrika bekend te stel, kry momentum met die aanstelling van ‘n identiteits- en sekuriteitsmaatskappy om toesig te hou oor die bekendstelling van die nuwe stelsel.
Die departement van vervoer het Maandag bevestig dat die Franse maatskappy IDEMIA op 8 Augustus as die voorkeurbieër gekies is om slimkaarte te vervaardig.
Dié besluit het gevolg op ’n maandlange bodproses wat in April begin en in Mei 2023 afgehandel het.
“Dit het gelei tot vyf bieërs se antwoorde wat ontvang is en aan ‘n deeglike en deursigtige proses van evaluering en beoordeling deur die tenderkomitee onderwerp is.
“Dit is ook aan ‘n eerlikheids-/ouditproses onderwerp – die eerlikheidsgevolgtrekking was dat al die prosesse aan voorgeskrewe wetgewing en beleide voldoen het,” het Collen Msibi, woordvoerder van die departement, in ‘n verklaring gesê.
Msibi het genoem dat IDEMIA “mettertyd ‘n diensvlakooreenkoms met die departement sal aangaan”.
Daarna sal die diensverskaffer die nodige infrastruktuur en stelsels vir die slimkaarte begin implementeer, wat aan internasionale bestuurslisensiestandaarde sal voldoen.
“Meer inligting in terme van die tydraamwerke sal daarna aan die publiek beskikbaar gestel word sodra die diensooreenkoms onderteken is.
“Die nuwe lisensiekaart sal nuwe sekuriteitskenmerke insluit wat daarop gemik is om die steeds toenemende risiko’s van bedrieglike en vervalste bestuurslisensies uit te skakel,” het die woordvoerder voortgegaan.
Die nuwe regering se kabinet het verlede Vrydag die departement se voorstel goedgekeur om die nuwe slimkaarte te vervaardig en uit te rol.
In April het die voormalige minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, aangekondig dat die departement ‘n nuwe bestuurslisensie-drukmasjien van Frankryk gaan aanskaf. Chikunga het destyds aangedui dat die departement beoog om die eerste 100 nuwe bestuurslisensiekaarte per provinsie teen die einde van die maand te druk en te versprei.
Die nuwe drukker sal na verwagting omkeertye vir lisensiekaarte in Suid-Afrika versnel, wat die vervaardiging van ‘n kaart binne vyf werksdae moontlik maak.
Huidiglik is daar net een bestuurslisensiekaartproduksiemasjien landwyd in werking, wat weens tegniese foute onklaar geraak het en vertragings in uitreikings tot gevolg het.
In 2022 moes die kaartmasjien na Duitsland gestuur word vir herstelwerk. Dit het gelei tot ‘n aansienlike agterstand in kaartproduksie, wat motoriste gedwing het om te bestuur met vervalde lisensies wat deur die Bestuurslisensiekaartrekening (DLCA) uitgereik is.
Die bestaande masjien produseer ongeveer 300 000 kaarte per maand.
Die nuwe bestuurslisensiekaart sal na verwagting verbeterde sekuriteitsmaatreëls bevat, soos biometriese data, hologramme en watermerke in ooreenstemming met die Internasionale Inligtingstegnologie Persoonlike Identifikasie Voldoende Bestuurslisensie (ISO18013).
Hierdie opgraderings is ontwerp om bedrieglike lisensies te bekamp, algehele padveiligheid te verbeter en die weg te baan vir die ontplooiing van digitale bestuurslisensies, sodat burgers toegang tot hul lisensies direk vanaf hul slimfone kan kry.
Die huidige kaart, wat sedert 1998 in werking is, sal oor ‘n tydperk van vyf jaar uitgefaseer word.