Jackie Macie het belowe om met al die relevante wetstoepassingstrukture in die provinsie en nasionaal in gesprek te tree om die voortdurende onrus wat deur onwettige mynwerkers veroorsaak word, aan te pak.
Ná sy onlangse besoek aan Pelgrimsrus, het die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, Jackie Macie, dit tot ’n oorlogsone verklaar as gevolg van die onrus.
Macie het egter ‘n dapper belofte gemaak dat sy departement vrede in hierdie gebied sal herstel. Hy het verder vir kalmte gevra en die plaaslike inwoners belowe dat die regering na die area gaan kom.
Macie het hierdie area Vrydag besoek om eerstehandse ervaring te kry van wat presies daar aan die gebeur is. Dít nadat dié geskiedkundige toerismegebied om al die verkeerde redes media-opskrifte oorheers het, nadat dit glo gekaap is deur ’n groep buitelandse burgers wat onwettig hier goud ontgin.
In Oktober 2023 het sommige plaaslike inwoners formeel klagtes ingedien en hul kommer oor hul veiligheid geopper nadat verskeie onwettige mynwerkers glo dié dorp bestorm en dit oorgeneem het.
“Na my besoek aan die gebied kan ek sê dat, ja, hierdie gebied het ‘n oorlogsone geword. Dit is natuurlik ‘n kommerwekkende feit en ‘n sekuriteitsbedreiging.”
Daar was berigte van voorvalle waarin hierdie onwettige mynwerkers, wat algemeen na verwys word as zama-zamas, met inwoners gebots het en op ‘n stadium selfs gedreig het om hulle dood te maak as hulle dit sou waag om hul mynbedrywighede te ontwrig. Om sake te vererger, word gesê dat die zama-zamas die residensiële eiendomme wat aan die provinsiale regering se departement van openbare werke, paaie en vervoer behoort, oorgeneem het.
Die gemeenskap se pogings om hulp van die polisie te verkry was vrugteloos, wat Macie genoop het om die dorp te besoek. “Dit is ‘n saak waaraan ons die nodige aandag gaan gee. Ons gaan terug na die tekenbord en ons gaan met al die relevante wetstoepassingstrukture in die provinsie en nasionaal in gesprek tree. Ons gaan strategies en met volle krag terugkom. Ons gaan die saak ook verhef en meer klem plaas op die dringendheid daarvan sodat dit die nodige aandag kry wat dit verdien van die nasionale regering. Jy kan sien dat dit nou buite die provinsie is en daarom ernstige ingryping van die nasionale regering nodig het.”
Sy kommer is ook aangevuur deur die onlangse ontdekking van ‘n geheime militêre opleidingskamp wat op ‘n plaas buite Witrivier gehuisves is, waar sommige Libiese burgers in die geheim militêre opleiding ontvang het.
Macie het sy frustrasie en kommer uitgespreek dat dit blykbaar voortdurende gevalle is van ongedokumenteerde buitelandse burgers wat die land en veral hierdie provinsie binnekom om onwettige operasies uit te voer, wat volgens hom plaaslike gemeenskappe kwesbaar laat.
“Wat ons kon optel, is die feit dat die onwettige mynwerkers hoofsaaklik ongedokumenteerde buitelandse burgers is en van Lesotho, Zimbabwe, Mosambiek en selfs so ver as Malawi kom. Ons het ook geleer dat hulle swaar gewapen is en gereed is om te veg. Hulle is gewapen met ernstige outomatiese gewere, soos AK-47’s, en daar is baie van hulle,” het Macie gesê.
Op 7 Mei het die polisie ‘n paar deurbrake gemaak toe hulle twee Mosambiekse burgers gearresteer het vir die onwettige besit van springstof, goudhoudende materiaal en myntoerusting.