Die groep misdadigers was na bewering op pad om ‘n massaskietery te pleeg.
Minstens vier verdagtes is dood en vier ander gewond in ‘n skietgeveg met die polisie in Kaapstad.
Na verneem word, het die skietgeveg tussen die verdagtes en die polisie Donderdagaand in Milnerton plaasgevind. Die skietery het tydens ‘n polisie-operasie plaasgevind nadat ‘n Wes-Kaapse taakspan inligting oor vermeende afpersers ontvang het.
Brigadier Novella Potelwa, polisiewoordvoerder, sê die provinsiale polisiekommissaris van die Wes-Kaap, luitenant-generaal Thembisile Patekile is op die toneel.
Potelwa het gesê die gewonde verdagtes is onder polisiebewaking by ‘n hospitaal in Kaapstad.
“Vier verdagtes is tydens konfrontasie met die Wes-Kaapse polisie in Milnerton doodgeskiet. Nog vier is in die hospitaal. Die agt was na bewering op pad om ’n massaskietery te pleeg. Beslag is gelê op vier vuurwapens en rondtes ammunisie uit die voertuig waarin die verdagtes gery het.
“Die gewonde verdagtes, almal van Kaapstad van 23, 30, 34 en 38 jaar is onder polisiebewaking in ‘n mediese fasiliteit. Soos die polisie die toneel fynkam en ondersoeke voortgaan, sal verdere besonderhede na verwagting bekend wees,” het Potelwa gesê.
Die skietgeveg kom ‘n paar uur voordat Senzo Mchunu, minister van polisie, die misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal vir die land bekend maak.
Buitelander gewond
Verlede week is ‘n buitelander wat vir moord gesoek word in ‘n skietgeveg met die polisie in KwaZulu-Natal (KZN) gewond.
Die 52-jarige verdagte is vermoedelik gesoek vir die moord wat hy na bewering in Augustus verlede jaar by Esikhaleni gepleeg het.
Polisiewoordvoerder, kolonel Robert Netshiunda, het gesê die verdagte is in die hospitaal opgeneem en is onder polisiebewaking.