(Deur Danie Jacobs)
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp – Konstruksie van The Village I Buffelsdoornweg het hierdie week hervat nadat die Noordwes Hooggeregshof in Mahikeng teen onwettige betreders/aanhitsers beslis het.
Werk aan die nuwe winkelsentrum het ‘n bietjie meer as twee weke gelede tot stilstand gekom toe werknemers op die perseel geïntimideer en weggejaag is deur die sogenaamde Construction Mafia, wat werk geëis het. Klerksdorp Rekord is meegedeel dat die kontrakteur vir sy lewe gevrees het.
Resilient Properties en Klerksdorp Village Investments het op Woensdag 14 Augustus daarin geslaag om ‘n hofbevel teen Mzukisi Jam, Jonas Thamsanqa, onwettige betreders en enige persoon wat met die genoemde betreders verband hou, te kry.
Die NW provinsiale polisiekommissaris en die stasiebevelvoerder van Klerksdorp-polisiestasie is ook beveel om wet en orde toe te pas sou Jam, Thamsanqa en ander oortreders nie aan die bevel voldoen nie.
Werk by die bouperseel is op Maandag 19 Augustus hervat. Klerksdorp Rekord het met een van die ontwikkelaars gepraat wat nie geïdentifiseer wil word nie en Klerksdorp Rekord is meegedeel dat hierdie terugslag ‘n vertraging van die verwagte openingsdatum van die sentrum tot gevolg gehad het. Hulle het beplan om op 1 Desember te open, maar dit is na 2025 verskuif.
Klerksdorp Rekord het verskeie oproepe ontvang van bekommerde burgers wat wou weet hoekom bouwerk tot stilstand gekom het. Gerugte oor die konstruksie-mafia wat hieragter sit, het ook soos ‘n veldbrand versprei en inwoners is bang dat “die mafia so magtig kan wees”.
Die intimidasie by dié nuwe sentrum is maar een onlangse geval van intimidasie in die Klerksdorp-omgewing.
Volgens kol Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, is soortgelyke optrede in Julie aangemeld toe ‘n kontrakteur besig was om vesel tussen Klerksdorp en Wolmaransstad en by ‘n taxistaanplek in Jouberton aan te bring. Die polisie het die skuldiges in hegtenis geneem op aanklag van afpersing.
Volgens die staatsondersoekeenheid (SOE) verwys die “konstruksie-mafia na afpersingsgroepe wat tipies druk op ontwikkelaars of kontrakteurs plaas om buitensporige tariewe te betaal of uitgerekte stakings in die gesig staar, dikwels tesame met die dreigement van skade aan eiendom en dreigemente van geweld teen diegene wat andersins sou wou aanhou werk”.