Jong boer van Barkly-Oos aangeval

ʼn Jong boer en inwoner van die Barkly-Oos-omgewing in die Oos-Kaap is oor die naweek in die dorp se hoofstraat deur ʼn groep mense aangeval.

TLU SA het gesê hy het met skok kennis geneem van die gruwelike aanval op Martin Cloete.

Die 36-jarige Cloete het TLU SA genader oor die aanval Saterdagaand op hom en sy vriendin, Mavis Myburgh.

“Na ʼn rustige dag by die Barkly-Oos-gholfklub het Cloete die klubhuis verlaat. Hy vertel hy het in Colestraat afgery toe ʼn wit motor skielik voor hom in Greyvensteinstraat inbeweeg het. Hy het stadiger gery om die ander motor verby te laat gaan, maar die motor het skielik gestop, wat veroorsaak het dat Cloete teen die agterkant van die voertuig gebots het,” het Thero Wink van TLU SA se tak op Barkly-Oos gesê.

“Toe ek my venster oopmaak om met die bestuurder te praat, het ʼn groep mense, wat naby die kroeg was, my genader,” vertel Cloete. “Een van hulle het sy hand in my motor gesteek om die deur oop te maak. In ʼn poging om ons te beskerm, het ek weggery.”

Hy het om die blok gery en teruggekeer om met die bestuurder te praat, maar wat hy toe teëgekom het, was ʼn groep mense wat bakstene en klippe gedra het, vertel hy. ʼn Baksteen het sy voorruit aan die regterkant getref. Cloete het probeer wegkom, maar hy het beheer oor sy voertuig verloor en in ʼn palissade vasgery. Toe hy probeer om agteruit te ry, het nog ʼn baksteen deur die passasierskant se venster gevlieg.

Myburgh is uit die voertuig gesleep, maar het ontsnap en na die plaaslike polisiestasie gehardloop. Cloete is deur die groot groep mense uit sy voertuig gesleep en wreed aangerand. Hy het vir sy lewe gevrees en het tydens die aanval sy bewussyn verloor.

“Ek het eers in die hospitaal wakker geword. Die polisielid wat my daardie aand gered het, het vir my gesê dat hy gedink het ek is dood. Dit was eers toe hy hoor dat ek kreun, dat hy besef het ek leef nog. Ek het hom Maandag geskakel en bedank dat hy my lewe gered het,” vertel Cloete.

Die brutale aanval is volgens TLU SA ʼn tragiese herinnering aan die toenemende wetteloosheid wat die land teister. “Hoewel TLU SA die vinnige optrede van die SAPD in hierdie geval waardeer, is dit duidelik dat sulke voorvalle onmiddellike en daadwerklike optrede vereis om verdere geweld te voorkom en om te verseker dat die skuldiges aanspreeklik gehou word.”

Wink en die res van die bestuur van TLU SA se tak op Barkly-Oos het Cloete ná die aanval ondersteun en hom van die volle steun van TLU SA verseker.

“As organisasie besef ons dat hierdie voorval ʼn plofbare situasie in die gemeenskap skep,” sê Wink. “Ons doen ʼn dringende beroep op die SAPD om nie net hierdie voorval met die nodige erns en dringendheid te hanteer nie, maar ook om ʼn deeglike evaluering te doen van hul optrede, of gebrek daaraan, in die afgelope tyd wat tot hierdie gevaarlike toestande gelei het.

“In Suid-Afrika word gemiddeld 80 sulke aanvalle per dag aangemeld. Hierdie werklikheid kan nie geïgnoreer word nie. TLU SA sal voortgaan om boere te beskerm en te ondersteun, maar dring aan op groter en meer effektiewe polisiëring om te verseker dat ons gemeenskappe veilig is. Ons sal hierdie saak noukeurig volg en met die relevante owerhede saamwerk om te verseker dat geregtigheid vir Cloete geskied.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui