‘Betaal of sterf!’ − Oos-Kaap onder beleg van afpersingsindikate

Sindikate eis sowat R20 000 vir klein ondernemings, R50 000 vir mediumgrootte, en meer as R200 000 vir groot ondernemings in ‘beskermingsfooie’.

Senzo Mchunu, minister van polisie, is bekommerd dat besighede en skole in Mthatha aangeval word deur afpersingsindikate wat “beskermingsfooie” eis.

Daar is toenemende kommer dat ondernemings gedwing word om deure te sluit weens die afpersingsraket met sindikate wat “beskermingsfooie” van sowat R20 000 vir klein ondernemings, R50 000 vir mediumgrootte, en meer as R200 000 vir groot ondernemings eis.

Afpersing
Na wat verneem word, is sommige skole en skoolonderwysers wat eiendomme in Mthatha huur ook gedwing om tussen R500 en R1 000 per maand vir beskerming te betaal.

Terwyl sommige sake-eienaars hul afsetpunte gesluit het, het ander uit die dorp gevlug nadat hulle met die dood gedreig is as hulle nie die “beskermingsgelde” betaal nie.

“Betaal of jy sal sterf,” is hulle gewaarsku.

Mchunu het aan 702 gesê die probleem is ‘n uitdaging wat die hoof gebied moet word.

“Dis krimineel. Dit is nie beperk tot die Oos-Kaap en Wes-Kaap nie. Dis ook Natal en elders. In die volgende paar weke behoort ons dit uit te sorteer.

“Dit het so gegroei dat ons hoor vroue in dorpe moet óf R50 op hul venster plaas óf hulle word verkrag as hulle dit nie doen nie. So dit het wild gegaan,” het Mchunu gesê.

Hy het gesê die huidige situasie is “lelik”.

“Daar is vermoedens dat sommige polisiebeamptes betrokke is.”

Aksieplan
Mchunu het gesê hulle het planne om die beleg in Mthatha op te los.

“Ons het begin om grondplanne te lê om dit te hanteer en soveel inligting as moontlik in te samel oor name van die mense wat hierin is op enige vlak. Daar is diegene wat as kingpins geïdentifiseer word en daar is diegene wat as hardlopers geïdentifiseer word.”

Mchunu en Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, het verlede week die brandpunte in Port Elizabeth en Mthatha besoek.

Die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Saps), generaal Fannie Masemola het ekstra stewels na die Oos-Kaap ontplooi om die afpersers en bendes hok te slaan.

Die ANC in die provinsie het ‘n beroep op die regering gedoen om soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te ontplooi om diegene wat agter voorvalle van bendegeweld en afpersing sit, te bekamp en in hegtenis te neem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui