Rodger Foster, uitvoerende hoof van Airlink, het gesê die ooreenkoms sal groter geleenthede en reikwydte meebring.
Die Midde-Oosterse lugdiens Qatar Airways het Dinsdag aangekondig dat hy ‘n 25%-belang in die plaaslike en streeksdiens Airlink verkry het.
Die ooreenkoms is die eerste regstreekse buitelandse belegging in ‘n Suid-Afrikaanse lugredery sedert FlySafair ‘n dekade gelede onder die Ierse ouer ASL bedrywighede begin het.
Airlink bedryf tans die grootste netwerk in Suid-Afrika met 45 netwerkpunte oor 15 markte.
In ‘n verklaring het Qatar Airways gesê dat die aandeleverkryging in Airlink sy ambisie aandui om sy belange in Afrika te bevorder.
Badr Mohammed Al-Meer, uitvoerende hoof van Qatar Airways Group, het gesê die belegging wys hoe belangrik Afrika is in sy planne vir die toekoms.
“Hierdie vennootskap demonstreer nie net ons vertroue in Airlink as ‘n maatskappy wat veerkragtig, rats, finansieël robuust is en volgens gesonde beginsels beheer word nie, maar ook in Afrika as ‘n geheel, wat die groot potensiaal toon wat ek verheug is dat ons in staat is om te help begin verwesenlik ,” het hy gesê.
Rodger Foster, uitvoerende hoof van Airlink, het gesê die ooreenkoms sal geleenthede en uitreiking vergroot.
“Hierdie transaksie sal groei ontsluit deur skaaldoeltreffendheid te verskaf, ons kapasiteit te vergroot en ons bemarkingsbereik uit te brei.
“Deur Airlink en sy besigheid te versterk, sal hierdie belegging alle bestaande lugredery-vennootskappe wat Airlink oor die jare gekoester het, versterk.”
Die vennootskap tussen Qatar Airways en Airlink sal ook beide lugdienste se lojaliteitsprogramme Qatar Airways Privilege Club en Airlink Skybucks in lyn bring.
Die verkryging ontken ook gerugte wat vroeër vanjaar in die lug was dat die SAL met Qatar Airways in gesprek was om Takatso as strategiese aandelevennoot te vervang nadat Pravin Gordhan, voormalige minister van openbare ondernemings, se omstrede transaksie platgeval het.