Ons weet die volk Israel was die fokus in die Ou Testament en dat hulle as volk die Verbondsopdrag gehad het om God se eer te dra. Maar wie moet nou God se eer dra? In die ‘Gelykenis van die Landbouers’ in Mt 21:33-43 verduidelik Koning Jesus aan die leiers van sy volk dat God hulle aangestel het oor sy eiendom om dit op te pas, maar hulle het dit gruwelik verwaarloos. Hy het profete gestuur om hulle te waarsku, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en selfs die profete vermoor. Toe kom Koning Jesus self om sy volk nog ‘n kans te gee, maar hulle – die leiers van sy volk – vermoor Hom.
Daarom gee Hy nou hierdie verantwoordelikheid aan heidense volke. Daarom is die sendingopdrag in Mt 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Nou moet ons let daarop dat dit die Griekse woord ‘ethnos’ is wat hier met ‘nasies’ vertaal is. Die presiese betekenis van die woord ‘ethnos’ is: ‘nie-Israelitiese volke’, of ‘heidense volke’. Dit is dus etniese volke – nie net ‘n ‘geestelike’ volk nie. Dit is ook dieselfde woord wat Jesus gebruik in Mt 21 waarna ons hierbo verwys het, toe Hy gesê het die verantwoordelikheid word van die Jode weggeneem en aan ander ‘ethnos’ gegee. In Handelinge lees ons uitvoerig dat die evangelie aan die heidene bedien word. Maar elke keer wat die woord ‘heidene’ in Handelinge genoem word, is die Griekse woord ‘ethnos’. Die bedoeling is dus nie soseer ‘heidene as ‘n massa individue’ nie, maar inderdaad ‘heidense volke’.
In Hand 15:13-18 lees ons dan ook hoedat God van die begin af uitgesien het daarna om die ‘vervalle hut van Dawid’ te herstel met “al die volke (ethnos) waaroor sy Naam uitgeroep is”. Wat is die ‘hut van Dawid’? Dit is die Koninkryk van God op aarde – soos Jesus ook verduidelik in Mt 21 wat ons hierbo aanhaal. Dit is die Verbondsopdrag wat oorspronklik net aan Israel gegee is, maar nou aan ‘ethnos’: nie-Israelitiese, heidense volke opgedra word. In Hd 17:26,27 verduidelik die Here dat dit ook die rede is waarom Hy die volke by die Toring van Babel van mekaar geskei het, en grense tussen hulle gestel het – sodat ons Hom in volksverband kan soek (Afr ’53 vertaling). Romeine 10 en 11 verduidelik ook uitvoerig hoe die Verbondsverantwoordelikheid by Israel weggeneem is en aan heidense volke gegee is (belangrik is om deurgaans te onthou dat ‘heidene’ (‘ethnos’) inderdaad ‘heidense (nie-Israelitiese) volke beteken).
Nêrens in die Bybel word ons opgeroep om as ‘n multikulturele massa voor God te verootmoedig nie. Daarom is die oproep dat ‘Suid-Afrika moet bekeer’ nie Bybels nie. Die multikulturele Suid-Afrika is nie die eenheid waarbinne ons moet verootmoedig nie. Elke volk word – as volk – geroep om voor God te verootmoedig.
Verseker is individuele verootmoediging belangrik – en ook noodsaaklik – vir volksverootmoediging. Maar hierdie oproep gaan spesifiek oor volksverootmoediging.
2 Kron 7:14 [as] my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.
Ons beplan ‘n verootmoedigingsdiens vir Sondag, 1 September, 12:00. Ons sal DV die plek deurgee.