Twee van Horton se slagoffers, Mathibela Ramoshaba (19) en Marcia Cronje, het ‘n maand gelede openlik oor hul traumatiese ervarings op Carte Blanche gepraat.
Die Amerikaanse dokter Tristram Horton, ’n neurochirurg wat na bewering die lewens van sy pasiënte in Gauteng en KwaZulu-Natalse hospitale in gevaar gestel het toe hy hulle geopereer het, is uit die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA) se register geskors.
Horton het in 2021 by die Thelle Mogoerane-streekhospitaal gewerk, daarna die Arwyp Mediese Sentrum in Kempton Park en Netcare Linmed in Benoni in 2023 voordat hy by Mediclinic Newcastle gepraktiseer het.
Die aktualiteitsprogram Carte Blanche het Horton onlangs ondersoek nadat hy klagtes van pasiënte en kollegas oor mediese wanpraktyke ontvang het.
Carte Blanche het berig dat Horton se lisensie om in die VSA te praktiseer opgeskort is nadat hy na bewering mislukte breinoperasies uitgevoer het voordat hy na SA gekom het.
Volgens die RGBSA se kommunikasiebestuurder, Priscilla Sekhonyana, het Horton se aansoek om registrasie as ’n mediese praktisyn nie aan al die vereistes voldoen wat in die regulasies voorgeskryf word nie omdat hy nie ’n sertifikaat van goeie aansien van ’n buitelandse registrasie-owerheid ingedien het waar hy geregistreer is/was nie.
“Hy het nie die verslag van die Onderwyskommissie van Buitelandse Mediese Gegradueerdes ingedien wat sy professionele registrasie by die buitelandse regulerende liggaam bevestig nie.”
Sekhonyana het gesê hierdie bevindings is deur die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe onthul tydens ‘n vergadering wat op 4 Julie gehou is.
Twee van Horton se slagoffers, Mathibela Ramoshaba (19) en Marcia Cronje, het openlik oor hul traumatiese ervarings op Carte Blanche gepraat.
Mathibela, wat met serebrale aneurisme gediagnoseer is, het gesê ‘n onmiddellike operasie was nodig toe dokters ontdek het dat hy ‘n bloedklont in sy brein het.
Horton het die prosedure uitgevoer en Mathibela se ma belowe hy sal reg wees en binne vier dae terug skool toe. Daar word berig dat die operasie ‘n tragiese wending geneem het en die kind ná ‘n tweede operasie verlam gelaat het.
As gevolg van die onsuksesvolle operasie is Mathibela na ‘n rehabilitasie eenheid oorgeplaas, waar hy weer moes leer loop.
Cronje het gesê Horton het haar geopereer nadat sy aanvalle van ‘n aggressiewe kankergewas gekry het.
Sy sê ná die operasie het Horton gesê hy het die gewas suksesvol verwyder. Haar vreugdevolle uitkoms was egter van korte duur.
Netcare Linmed Hospitaal
Linda Bossert, die hospitaalhoofbestuurder, het beklemtoon dat Netcare nie dokters in diens het nie. Die dokters bedryf onafhanklike praktyke by die hospitaal.
“Die Wet op Gesondheidswerkers en die HPCSA-reëls en -regulasies beheer dokterspraktyke.
“Die HPCSA is die statutêre liggaam wat mediese praktyk in SA beheer. Die raad stel en dwing professionele en etiese standaarde vir gesondheidsorgverskaffers af om die publiek te beskerm en die beroep te lei.
“Dit sluit in professionele registrasies, die ondersoek van klagtes en die neem van dissiplinêre stappe wanneer nodig.”
Bossert het gesê hulle het geen probleme met Horton binne Netcare ondervind nie en het geen klagtes van personeel of pasiënte oor hom ontvang nie.
“Horton se praktiserende voorregte is egter by Netcare opgeskort ná die onlangse openbare bewerings, en hy het met ons prosesse in hierdie verband saamgewerk,” verduidelik Bossert.
Arwyp Mediese Sentrum
Volgens die HUB van Arwyp Mediese Sentrum, Dr Zecharai Esterhuizen, het die hospitaal nooit vir Horton in diens geneem nie.
“Privaat hospitale word nie, ingevolge die Wet op Gesondheidsberoepe No. 56 van 1974, soos gewysig, wetlik toegelaat om dokters in diens te neem nie, met die gevolg dat ons vermoë om onafhanklike praktisyns te bestuur en te beheer beperk is. Die uiteindelike beheer oor gesondheidswerkers berus by liggame soos die HPCSA.
“Arwyp Mediese Sentrum, as ’n instelling, verleen die reg van toelating aan onafhanklike gesondheidsorgpraktisyns ná ’n omvattende keuringsproses, volgens ons gedokumenteerde riglyne.
“Dit sluit in indiening van kwalifikasies deur die genoemde praktisyn, en ons verifieer ook die versekeringsdekking, asook HPCSA-registrasie op ’n jaarlikse basis.”
Esterhuizen het gesê die Arwyp Mediese Sentrum erken enige klagtes wat ontvang word rakende ‘n dokter en eskaleer dit na die betrokke praktisyn, volgens protokolle.
“Arwyp Mediese Sentrum het die reg van toelating (ROA)-voorregte beëindig wat dr Horton formeel vanaf 28 Junie gehad het ná die kennisgewing van opskorting van registrasie as ‘n onafhanklike praktisyn deur die RGBSA.
“As ‘n onafhanklike praktisyn is aan Horton ROA-voorregte by Arwyp Mediese Sentrum toegestaan, effektief op 13 Januarie 2023, na ‘n streng keuringsproses, insluitend die verifiëring van geldige registrasie by die HPCSA as ‘n onafhanklike praktisyn in die neurochirurgiese spesialiskategorie.”
Esterhuizen het gesê Horton het as ‘n neurochirurg by die fasiliteit gepraktiseer en in neurovaskulêre patologie gespesialiseer.