Slegte dag op kantoor: Bejaarde man se loodpille stop twee verdagtes in mislukte huisroof

Die bejaardes raak moeg daarvoor om deur huisrowers geteiken te word en veg nou terug.

In die jongste voorval Dinsdagaand het ‘n 73-jarige man twee verdagtes tydens ‘n huisroof in Richmond Hill, in Port Elizabeth, homself met sy wapen verdedig en gewond.

Volgens kaptein Sandra Janse Van Rensburg het die 73-jarige man geslaap toe hy ‘n geluid hoor wat hom wakker gemaak het.

Die bejaarde man het sy vuurwapen by hom gehad toe hy gaan ondersoek instel het.

“Hy het drie verdagtes binne die huis in die gang opgemerk wat hom nader,” het kapt Sandra Janse van Rensburg gesê.

Die bejaarde man het twee skote op die verdagtes afgevuur en twee verdagtes gewond. Die derde verdagte het van die toneel gevlug en sy makkers agtergelaat.

“Weens die vinnige reaksie van ’n private veiligheidsmaatskappy en metropolisie is die twee gewonde verdagtes van 31 en 37 jaar aangekeer.”

‘n Polisie-ondersoek het vasgestel dat die verdagtes toegang tot die eiendom verkry het deur ‘n venster in die voorste slaapkamer te verwyder. Hulle het niks van die eiendom geneem nie.

Die bejaarde man het geen beserings tydens die voorval opgedoen nie. Albei verdagtes is huidiglik onder polisiebewaking in die hospitaal, waar hulle vir die skietwonde behandel word.

SAPD Humewood ondersoek ‘n saak van huisbraak en poging tot moord.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui