Hofbevel om 16 Mosambiekse vroue te deporteer, 15 ander bly in aanhouding

Die saak teen 15 Mosambiekse mans is tot volgende week uitgestel.

Die landdroshof in Barberton het beveel dat 16 Mosambiekse vroue wat Vrydag in Mpumalanga gearresteer is, gedeporteer word.

Die polisie het Vrydag omstreeks 20:00 in Kaapmuiden, Mpumalanga, altesaam 41 Mosambiese burgers in hegtenis geneem.

Die inhegtenisneming het gevolg op inligting van misdaadintelligensie rakende die twee taxi’s wat mense wat ongedokumenteer is, van Mosambiek na Johannesburg vervoer het.

Kaapmuiden SAPD, plaaslike kriminele rekordsentrum en grenspolisie, het die inligting opgevolg en die taxi’s raakgesien. Hulle is gestop en die taxi’s is op die N4 langs Kaapmuiden deursoek. Tydens die soektog het die polisie altesaam 16 vroue gevind wat met 10 kleuters reis, en 15 mans sonder behoorlike dokumentasie. Onder die 16 vroue was daar vier tienermeisies.

Hulle is aangekla en aangehou op aanklagte van oortreding van die immigrasiewet, ontvoering, “aiding and abetting”.

Hulle het Dinsdag in die hof verskyn waar die 16 Mosambiekse vroue skuldig bevind en gevonnis is tot R2 000 of ses maande gevangenisstraf, geheel en al vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hulle nie skuldig bevind word aan soortgelyke misdrywe gedurende die skorsperiode nie.

Die hof het verder gelas dat die beskuldigdes onmiddellik na hul land gedeporteer word.

Die hof het die sake teen die 15 Mosambiekse mans tot 20 Augustus 2024 vir verteenwoordigers van regshulp uitgestel, het kaptein Dineo Sekgotodi gesê. Hulle bly in aanhouding namate die ondersoeke voortduur.

Die hof het nie die sake teen die minderjariges hanteer nie, hangende die beskikbaarheid van ‘n proefbeampte en maatskaplike werkers.

Mosambiekse seuns gered
In Mei het die Gauteng Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se Maatskaplike Werkers 8 Mosambiekse seuns na hul tuisland teruggestuur.

Die polisie het die seuns gevind tydens ‘n klopjag wat deur die departement van arbeid uitgevoer is. Nadat die departement inligting ontvang het dat ‘n fabriek wat deur ‘n Chinese burger in Nigel besit word, kinders en ongedokumenteerde buitelanders in diens het, het die klopjag plaasgevind.

Die departement het die seuns tussen 13 en 17 jaar oud by Mary Moodley Child and Youth Care Centre in Benoni geplaas.

Die departement het ‘n saak van kinderarbeid, swak werksomstandighede en minderjariges wat nie gedokumenteer is nie, teen die eienaar van die Electrical Supply Company in Nigel geopen wat hulle in diens geneem het.

Die seuns het op 15 Januarie in Suid -Afrika aangekom in ‘n taxi met 14 ander seuns. Hulle het destyds aan die maatskaplike werkers gesê dat ‘n bestuurder van die Nigel-onderneming hulle in Mosambiek gewerf het.

Die kinderhof in Nigel het destyds die departement toestemming gegee om die seuns van die sentrum vry te laat om hulle aan hul eweknieë in Mosambiek oor te gee.

Mensehandel in Suid -Afrika
Volgens die verslag Mensehandelverslag van 2024 deur die die Amerikaanse Staatsdepartement, vier mensehandel om verskillende redes nog steeds hoogty in Suid -Afrika. Dit ondanks die pogings van die Suid-Afrikaanse regering om mensehandel te bekamp.

Luidens die verslag misbruik mensehandelaars binnelandse- en buitelandse slagoffers in Suid -Afrika. Hulle werf slagoffers uit buurlande en Suid -Afrika se landelike gebiede en gebruik hulle in sekshandel in stedelike gebiede soos Johannesburg, Kaapstad, Durban en Bloemfontein.

“Ondanks hoë werkloosheid reis migrante van Oos-, Sentraal- en Suider-Afrika na Suid-Afrika op soek na ekonomiese geleenthede en is dit kwesbaar vir uitbuiting,” lui die verslag.

Die SA-polisie het verskeie arrestasies van ongedokumenteerde persone gemaak en hulle gedeporteer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui