Reza se lyk is Dinsdag gevind, sowat 100 meter van die plek waar hy vermoedelik verdrink het.
Die vermiste matriekleerling van Hoërskool Greenside, Reza Saloojee, is dood aangetref.
Noxolo Kweza, Gautengse polisiewoordvoerder, het aan The Citizen bevestig dat die 18-jarige se lyk Dinsdag gevind is.
Na verneem word, is Saloojee sowat 100 meter van die plek waar hy vermoedelik verdrink het, gevind .
Kweza het gesê die soekspan het bestaan uit waterpolisie en duikdienste van Ekurhuleni, Johannesburg, Tshwane en Sedibeng.
“Ekurhuleni- en Sedibeng K9-eenhede het ook met die soektog gehelp.
“Die drie dae lange soektog na die 18-jarige seun wat Sondagmiddag in die Vaaldam verdrink het, het vandag (Dinsdag) tragies geëindig toe die SAPD-duikers sy liggaam binne die dam gevind het,” het Kweza gesê.
Kweza het gesê Saloojee se familie was op die toneel toe die span SAPD-duikers die lyk omstreeks 16:00 gevind het.
“Die duikers het daagliks om 08:00 begin en om 18:00 klaargemaak. Die span was onder leiding van ao CR Swanepoel van Ekurhuleni-duikers. Die span is ook bygestaan deur die plaaslike polisie wat ‘n steunpilaar was gedurende die soektog.
“Vaal Marina-polisie het sedertdien ‘n geregtelike doodsondersoekdossier geopen,” het Kweza bygevoeg.
Fred Kekana, adjunk-provinsiale kommissaris vir polisiëring in Gauteng, het polisieduikers geprys terwyl hulle lang ure na Saloojee gesoek het.
Kekana het gesê die beamptes het pas teruggekeer van ‘n weeklange opknappingskursus in Durban en hulle het nie geskroom om in te spring en te help wanneer hulp nodig is nie.
“Dit is prysenswaardig en ons doen ’n beroep op gemeenskappe om nou met hulle saam te werk.”
Reza was die naweek saam met sy gesin op ‘n visvanguitstappie toe hy by die dam ingegaan het om ‘n paar besittings te gaan haal.
’n Sterk stroom het hom glo meegesleur, wat gelei het tot ’n uitgebreide soektog deur polisieduikers oor twee dae.