Volgens Salga word 66 munisipaliteite deur die Nasionale Tesourie as ‘ernstig finansieel benoud’ beskou.
Loononderhandelinge op plaaslike regeringsvlak sal Maandag (12 Augustus) hervat, met die partye wat nog ver uitmekaar is. Die vorige loonooreenkoms het einde Junie verval en dit is nog nie duidelik of die nuwe ooreenkoms slegs vir die huidige jaar of vir verskeie jare gaan geld nie.
Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) en die Onafhanklike Munisipale en Geallieerde Vakbond (Imatu) dring aan op ‘n verhoging van 8% en ‘n mate van verbetering in voordele, terwyl die plaaslike regeringsvereniging Salga – wat munisipale werkgewers landwyd verteenwoordig – slegs voorbereid is om werknemers wat deur die bedingingsooreenkoms gedek word 3,5% meer te gee.
Salga wil verder hê dat die meerderheid munisipaliteite van die ooreenkoms uitgesluit word en sê hulle kan eenvoudig nie bekostig om hul werkers meer te betaal nie. Dit sê die huidige vrystellingsprosedure werk nie aangesien partye in die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regering Bedingingsraad (SALGC) hulle as ‘n reël teenstaan.
Die vereniging meld dat finansieël benarde munisipaliteite slegs by die ooreenkoms ingesluit sal word indien daar ooreengekom kan word op ‘n nuwe “gebruikersvriendelike” vrystellingsmeganisme.
Volgens Salga het die 66 munisipaliteite wat deur die Nasionale Tesourie as “ernstig finansieel benoud” beskou word en die 157 wat as “finansieel benoud” beskou word ernstige bekostigbaarheidskwessies en die partye moet dit erken.
Dit is die meerderheid (86%) van munisipaliteite aangesien daar ‘n totaal van 257 landwyd is.
Salga stel voor dat hierdie munisipaliteite toegelaat word om aansoeke in te dien om die verhogings te betaal wanneer hul finansies aansienlik verbeter het en vereis word om finansiële herstelplanne te verskaf om te verseker dat hulle wel stappe doen om hul finansies te verbeter.
Verlede jaar het die Stad Tshwane om sodanige vrystelling aansoek gedoen, wat nie toegestaan is nie.
Onder leiding van burgemeester Cilliers Brink het die stad nietemin geweier om die ooreengekome verhogings te betaal en is as gevolg daarvan gekonfronteer met ‘n uitgerekte gewelddadige staking. Die saak is steeds in die howe.
Oor die huidige onderhandelinge, wat in Junie begin het, sê Brink daar is ‘n direkte verband tussen die koste van dienste aan inwoners en die salarisse wat munisipaliteite betaal.
“Die huidige trajek van bo-inflasieverhogings is onvolhoubaar. Verlede jaar was Tshwane die enigste munisipaliteit wat hierdie werklikheid erken het. Nou stem Salga met ons saam.”
Die munisipale bestuurder van ‘n mediumgrootte munisipaliteit in die Wes-Kaap het ‘n bietjie insig gegee in wat munisipale werkers verdien. Hy het gevra om nie genoem te word nie.
“Ons betaal ‘n ongeskoolde arbeider, die ou wat die graaf vashou en die loopgrawe grawe, R250 000 per jaar,” sê hy.
“Dit is minstens drie keer wat dieselfde persoon in die private sektor sou verdien.”
Hier is die salarisbande wat in daardie munisipaliteit en landwyd van toepassing is. Dit sluit nie die salarisse van munisipale bestuurders en diegene wat direk aan hulle rapporteer in nie aangesien hulle nie deel van die bedingingseenheid is nie.
Bron: ‘n Wes-Kaapse munisipaliteit; landwyd van toepassing
Bo en behalwe jaarlikse verhogings kry personeel dikwels ook kerfverhogings om binne hul salarisband op te beweeg en personeel by sommige landelike munisipaliteite kry ook areatoelaes.
’n Trekkerbestuurder verdien byvoorbeeld nagenoeg R290 000 per jaar. Dit sluit ‘n maandelikse salaris van sowat R13 700, jaarlikse bonus, behuisingstoelae, bydrae tot die mediese fonds, pensioenbydrae, werkloosheidsversekering en groeplewensversekering in.
Afgesien van die kwessie van bekostigbaarheid, is die produktiwiteit van munisipale werkers dikwels laag en om van lui werkers ontslae te raak byna onmoontlik, sê die munisipale bestuurder.
Topaanstellings binne die bedingingseenheid kan tot R1,9 miljoen per jaar verdien. Die hoof van elektrisiteit of water kwalifiseer tipies op daardie vlak.
Leon Claassen, ’n ontleder by Ratings Afrika wat jaarliks die finansiële state van ’n groot groep munisipaliteite ontleed met die fokus op finansiële volhoubaarheid, sê die personeelkoste van die 100 munisipaliteite wat hulle verlede jaar onder die loep geneem het, het gemiddeld 40% van hul bedryfsuitgawes uitgemaak in die 2022/23 finansiële jaar.
Dit neem nie eens grootskaalse aankope van elektrisiteit en water in ag nie.
“Ons beskou 35% as ’n goeie syfer omdat besteding aan byvoorbeeld instandhouding verminder word weens hoë personeelkoste,” sê hy.
Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, sê die private sektor kan eenvoudig nie met salarisse en byvoordele in die staat en munisipaliteite meeding nie.
Die hoë salarisrekening is ’n politieke moeras wat net met sterk politieke wil gestuit kan word. As politieke leiers hul voet neersit, moet hulle egter die politieke pyn wat volg aanvaar, sê hy.
Die alternatief is dat belastingbetalers eenvoudig nie sal kan byhou met stygende eiendoms- en ander belasting om die salarisrekeninge te finansier nie, sê Roodt.
Hy waarsku dat die las selfs vir openbare instellings te swaar kan word, en noem die bankrot Poskantoor en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) as voorbeelde van instellings wat weens buitensporige salarisrekeninge in duie gestort het.