Op dieselfde dag is Mandla Mandela se Toyota Prado van R4 miljoen ook in Limpopo teruggevind.
’n 32-jarige man is by die Beitbrug-grens in hegtenis geneem omdat hy in besit was van ’n gesteelde Toyota Prado.
Die motor, ter waarde van R900 000, is Maandag in Pretoria as gesteel aangemeld.
Die polisie se teensmokkel-taakspan in Limpopo het Donderdag ‘n wenk ontvang dat die voertuig op die punt is om na Zimbabwe gesmokkel te word.
“Die span het dadelik gereageer en ‘n wit Toyota Prado VX, wat op Maandag, 05 Augustus 2024 as gesteel aangemeld is in Villieria-polisiëringsgebied, Pretoria in Sentraal-Transvaal provinsie, is by die R37-pad van Lebowakgomo na Pietersburg opgemerk,” het kolonel Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, gesê.
Hy het gesê die bestuurder kon nie die geldige dokumente vir die motor toon toe hy voorgekeer is nie.
“Hy is ter plaatse in hegtenis geneem vir die besit van ‘n vermoedelik gesteelde motorvoertuig.”
Ledwaba het bygevoeg dat die bestuurder ‘n Suid-Afrikaanse man was. Hy sal Maandag, 12 Augustus 2024 in die Thabamoopo-landdroshof verskyn.
Die polisie het gesê ondersoeke na die gesteelde motor duur voort.
Thembi Hadebe, polisiekommissaris van Limpopo, het die arrestasie verwelkom en gesê die polisielede het hul toewyding bewys deur aanhoudend gesteelde voertuie in die provinsie terug te vind.
Mandla Mandela se motor is teruggevind
Die herwinning van die Toyota Prado het plaasgevind op dieselfde dag dat ‘n motor van R4 miljoen wat aan ‘n parlementslid behoort ook op die punt was om na Zimbabwe gesmokkel te word.
Die Toyota Land Cruiser 200 is in Lebowakgomo naby Polokwane gevind. Dit behoort glo aan Mandla Mandela, die kleinseun van oudpresident Nelson Mandela.
Die polisie het Vrydag gesê die motor is by Menlyn Mall in Pretoria gesteel.
“Die voertuig, wat Donderdagmiddag 7 Augustus 2024 by ‘n parkeerterrein in Menlyn Mall, Pretoria gesteel is, was op pad om na Zimbabwe gesmokkel te word toe die verdagte later die aand aangekeer is.
“Die 42-jarige Zimbabwiese burger is aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde motorvoertuig en oortreding van die Immigrasiewet nadat vasgestel is dat hy onwettig in die land was.”
Die verdagte sal op 12 Augustus in die Pietersburg-landdroshof verskyn.