‘n Passasiersvliegtuig met 62 mense aan boord het in ‘n vurige wrak in Brasilië se São Paulo-staat neergestort en alle passasiers en bemanning is dood.
“Daar is geen oorlewendes nie,” het kol Emerson Massera van die Brasiliaanse militêre polisie laat Donderdag aan verslaggewers by die ongeluksterrein in die stad Vinhedo gesê.
Massera het gesê die brand is onder beheer gebring, maar sowat 50 brandbestryders is steeds besig om die gebied af te koel. “Dis ’n baie hartseer toneel; ons werk is nou daarop gefokus om die area skoon te maak sodat die ondersoek en identifikasie van die liggame kan voortgaan,” het hy gesê.
Die ATR-72-vliegtuig wat deur die lugdiens Voepass Linhas Aéreas bedryf word, was onderweg van Cascavel, in die deelstaat Parana, na Guarulhos, in São Paulo, toe dit in ‘n woonbuurt sowat 76 km van die hoofstad van die staat neergestort het. Voepass het gesê 58 passasiers en vier bemanningslede was aan boord.
Geen ongevalle is op die grond aangemeld nie, volgens kol Cassio Araújo de Freitas, die algemene bevelvoerder van die militêre polisie, wat gesê het: “Ons het geen verslae van enige ander slagoffers behalwe dié op die vliegtuig nie.”
Volgens die Flight Radar-webwerf het die vliegtuig op 17 000 voet gevlieg voordat dit binne twee minute 4 000 voet ingeduik het, en toe is sy GPS-sein verlore.
Video wat op sosiale media gedeel is, wys hoe die vliegtuig buite beheer raak terwyl dit in ‘n tros bome ingeduik het, gevolg deur ‘n groot pluim swart rook. Nog ‘n snit wys vlamme en rook wat uit die vliegtuig romp kom waar dit glo in die kant van ‘n huis ingeploeg het.
Brandende rommel en ten minste een lyk kon gesien word wat oor die tuine van ‘n woongebied gestrooi was, terwyl noodvoertuie opgedaag het.
Ana Lúcia de Lima, wat daar naby woon, het aan die UOL-nuuswebwerf gesê dat die geraas so hard was dat dit “geklink het of dit in my huis val … Die eerste ontploffing was sterk, daar het reeds donker rook uitgekom, en toe was daar verskeie meer ontploffings.”
Die Brasiliaanse Lugmag en die Federale Polisie het berig dat hulle spanne ondersoekers na die terrein gestuur het. Die Nasionale Burgerlugvaartagentskap het verklaar dat dit die regulatoriese status van die vliegtuig en bemanning hersien.
President Luiz Inácio Lula da Silva het Vrydagmiddag by ‘n geleentheid in die suide van Brasilië gepraat, net minute na die ongeluk en ‘n minuut van stilte gevra vir diegene wat in die ongeluk verlore geraak het.
Intussen is minstens 21 lyke gevind op die plek van die vliegtuigongeluk. Daar is geen oorlewendes nie.
Spanne het deur die nag gewerk om slagoffers van die ramp te vind nadat die tweemotorige turboprop wat deur die lugdiens Voepass bedryf word, in die dorp Vinhedo neergestort het.
Die aantal ongevalle is Saterdag tot 62 aangepas. Voepass het vroeër gesê dat die ATR 72-500 57 passasiers en vier bemanningslede vervoer het tussen Cascavel in die suidelike deelstaat Paraná na Guarulhos-lughawe in die stad São Paulo. Maar dit het later bevestig dat daar nog ‘n onverklaarde passasier op die vlug was.
Agt kankerdokters ‘wat hul lewens daaraan gewy het om ander te red’ was onder die 62 passasiers en bemanning wat dood is op die gedoemde Brasilië-vlug wat in ‘n vuurbal ontplof het toe hulle op pad na ‘n onkologiese konferensie was.