Amper 4 jaar nadat Mark Regal (50) op ‘n plaas naby Odendaalsrus in die Vrystaat doodgeskiet is, is ‘n man vandeesweek tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy dood. Regal was ‘n bekende inwoner van Welkom.
Khulekani Kaizer Mthethwa (46) is Woensdag in die rondgaande hooggeregshof tot ‘n bykomende 10 jaar tronkstraf gevonnis vir die poging tot moord op Regal se vrou, Angela.
Mthethwa is verlede jaar deur middel van DNS-bewyse aan die moord verbind nadat hy na ‘n lang, uitgerekte soektog, in die gevangenis opgespoor is. Hy is sedert 2021 in die tronk vir sakeroof.
Regal en sy vrou het op 11 November 2020 na sy pa, ‘n bekende wildboer en taksidermis van Odendaalsrus, se plaas genaamd Thelma, omgesien toe twee aanvallers toegeslaan het. Regal en een van die aanvallers is tydens die aanval doodgeskiet.
Angela het buite gesit toe die twee aanvallers ongeveer 19:45 op die plaas aangekom het. Sy het een van die verdagtes noodlottig gewond.
Toe Regal uit die huis kom, is daar op hom geskiet en hy is noodlottig gewond.