Waarskuwing: Webwerf teen korrupsie is vals en stel fluitjieblasers in gevaar

‘n Vals webwerf gebruik ‘n Pretoriase raadslid se naam en foto’s om haar te belaster en fluitjieblasers te lok. Hier is meer inligting.

’n Vals webwerf is geïdentifiseer wat ’n Pretoriase raadslid se naam en foto’s gebruik om haar te belaster en fluitjieblasers te lok.

Die webwerf https://siobhanmuller.org gebruik raadslid Siobhan Muller se naam en foto’s nie net om haar te belaster en fluitjieblasers te lok nie, maar ook om hul veiligheid in gevaar te stel deur hul persoonlike inligting aan misdadigers bloot te stel.

“Die webwerf is uiters gevaarlik aangesien onwetende fluitjieblasers die webwerf kan gebruik om korrupsie aan te meld, en sodoende blootgestel word aan die misdadigers en hul lewens en dié van hul families sal in gevaar wees,” het Muller gesê.

Sy het bygevoeg dat die webwerf ontwerp is om fluitjieblasers te lok en te kontak, hul persoonlike inligting bloot te stel en hul veiligheid te benadeel terwyl dit haar belaster.

Muller het gesê die Demokratiese Alliansie (DA) het hierdie kwaadwillige webwerf aangemeld en werk aktief daaraan om dit te laat verwyder.

“Daarbenewens werk die DA saam met die Stad Tshwane om hierdie voorval deeglik te ondersoek.”

Sy het gesê daar is gevind dat die webwerf deur HOSTINGER in Georgië aangebied word en op 16 Julie 2024 geregistreer is.

Dit is op 21 Julie 2024 opgedateer.

“’n Aantal mense het die webwerf by die gasheermaatskappy, Facebook en ander sosiale media-platforms aangemeld.

“Die werf se oorsprong is onbekend, maar het duidelike kwaadwillige en gevaarlike bedoelings.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui