Agt mense is geskiet en dood, en vyf ander in hegtenis geneem, tydens ‘n klopjag op ‘n groep wat vermoedelik ‘n transitorooftog in Khayelitsha, Kaapstad, Maandagaand beplan het.
Polisiewoordvoerder, brigadier Novela Potelwa, het gesê die span, saamgestel uit Valke-lede, intelligensie-operateurs, die Spesiale Taakmag en beamptes van veiligheidsmaatskappye, het op kritieke inligting oor die beplande rooftog opgetree.
Potelwa het gesê die span het toegeslaan op die voornemende rowers in Dorp Twee, Khayelitsha.
“Terwyl die span die verdagtes genader het, het die voornemende rowers skote op die polisie begin afvuur wat teruggeskiet het.
“As gevolg hiervan is agt verdagtes doodgeskiet en vyf is in hegtenis geneem,” het sy gesê.
Die owerhede het beslag gelê op ‘n aantal wapens, waaronder sewe AK-47-gewere, twee R5-gewere, een R4-geweer, een Dashprod-geweer, twee 9 mm-pistole en drie geïmproviseerde springstoflaaiers, saam met talle ammunisiemagasyne.
“Die Valke-speurders is hard aan die werk met ondersoeke en opvolg van bykomende inligting,” het Potelwa bygevoeg.


