Die Suid-Afrikaanse dokter wat tronk toe gestuur is vir die moord op haar drie dogtertjies by hul huis in Nieu-Seeland, appelleer teen haar skuldigbevindings.
Lauren Dickason is in Junie deur ‘n hof in Christchurch tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op haar drie jong dogters in 2021.
Dickason het in ’n verklaring aan plaaslike media ná haar vonnisoplegging gesê sy het haar kinders en haar man, wat intussen na Suid-Afrika teruggetrek het, “in die steek gelaat”.
Sy het onskuldig gepleit op drie aanklagte van moord, die verdediging van waansin of kindermoord.
Die New Zealand Herald het Maandag berig Dickason veg teen haar skuldigbevinding. Haar regspan het op 23 Julie ‘n kennisgewing van appèl teen skuldigbevinding by die appèlhof ingedien.
Die gronde vir die appèl is nog nie bekend nie. Indien die appèl suksesvol is, kan ‘n tweede verhoor gehou word.