KBS mediaverklaring – Sport of Spot: Olimpiese Spele 2024 – Afrikaanse Protestanse Kerk

Saamgestel deur Ds. Schalk Strauss

Saam met Christene dwarsoor die wêreld veroordeel die AP Kerk die aanstootlike gebeure gedurende die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Parys (Frankryk) op 26 Julie 2024.

Dit was duidelik dat die organiseerders hierdie geleentheid, wat wye mediadekking geniet, gebruik het om die politieke agenda van die LGBTQIA+-gemeenskap te bevorder.

Die fokus van die spele behoort op die skoonheid van sport te wees en moenie geslagsverwarring propageer nie (vgl. Kol. 3:23).

Hoewel die organiseerders verskoning gevra het vir moontlike aanstoot, het hulle dit duidelik gemaak dat hulle die waardes waarmee hulle assosieer, ten toon gestel en gepropageer het. Ten spyte van die aanstoot, staan hulle dus by die waardes wat uitgebeeld is.

Dit is egter meer as aanstoot, aangesien dit indruis teen die Bybelse waarheid dat die eer van God vir Christene die hoogste prioriteit moet wees! Groter as die menslike emosies wat ontketen word, is die feit dat die lewende God Hom nie laat bespot nie (vgl. Gal. 6:7).

Onder die dekmantel van inklusiwiteit, het mans in vroueklere (“drag queens”) deel gevorm van die vermaaklikheidskunstenaars wat in die optog en uiteindelik aan ’n tablo deelgeneem het.

Die Bybelse beginsel is dat ook kleredrag die Bybelse rolle van mans en vroue sal eerbiedig, sonder om die Godgegewe rolverdeling tussen mans en vroue te ondermyn (vgl. Deut. 22:5). Sulke praktyke is in die lig van die Bybel ongeoorloof, waar God die onderskeid tussen die geslagte en die huwelik tussen een man en een vrou as norm voorhou.

Die heiligheid van die huwelik en die huweliksbed, waar God die mens só as sy beelddraer geskape het, is uitdagend in die opening gedegradeer tot perversiteit (vgl. Hebr. 13:4). Dit is duidelik dat die organiseerders die vuis gebal het vir die geskape orde en heiligheid van die lewende God (vgl. Rom. 1:18-28).

Die organiseerders beskryf hul voorstellings met woorde soos “feestelik” en verdedig só die gebruik van ’n halfnaakte man, wat die Griekse wyngod Dionisus, voorstel. Volgens die programorganiseerder, Thomas Jolly, wou hulle ’n “heidense partytjie” wat aan die Griekse godedom, Olimpus, verbind kan word, uitbeeld.

“In Frankryk is almal vry om lief te hê soos hulle wil en wie hulle wil, hulle is vry om te glo of om nie te glo nie,” aldus Jolly. Daarteenoor is dit vir gelowiges belangrik om die boodskap uit te dra dat Christene drankmisbruik, losbandigheid en promiskuïteit in die naam van feestelikheid, veroordeel (vgl. Gal. 5:19-21).

Dronkenskap hoort veral nie by Olimpiese atlete nie (vgl. Efés. 5:18). Christene veroordeel losbandigheid, want ook in feesvierings moet God verheerlik word (vgl. 1 Kor. 10:31).

Waar Parys in die openingseremonie as die stad van die liefde voorgestel is, is dit ‘n verwronge beeld wat geensins die liefde van en vir God ten toon stel nie (vgl. 1 Joh. 4:7-8).

Die finale tablo was ’n toneel wat visueel herinner aan Leonardo da Vinci se Laaste Avondmaal, wat die Here Jesus en sy dissipels uitbeeld.

’n Vrou met ’n stralekranskroon is die fokuspunt en diegene aan haar regter- en linkerkant se kleredrag wys duidelik dat hulle verteenwoordigers van die LGBTQIA+-gemeenskap is. Hoewel Jolly beweer dat die skildery nie sy inspirasie vir die toneel was nie en dat hy om verskoning vra vir die aanstoot wat dit gegee het, kan die duidelike ooreenkoms met die Here en sy dissipels se nagmaalviering nie ontken word nie.

Die verskoning dat die toneel op die skildery van Jan van Bijlert met die titel, “Fees van die gode” gebaseer is, hou ook nie water nie, aangesien hierdie skildery op sigself doelbewus deur Van Biljert op Da Vinci se Laaste Avondmaal gemik was.

Jolly se verduideliking staan duidelik onder verdenking in die lig van die feit dat sekere lede van die Olimpiese Organisasiekomitee erken het dat Jolly wel inspirasie vir die toneel uit Da Vinci se skildery geput het.

Twee van die deelnemers aan die toneel het ook bevestig dat hulle bewus was dat die toneel ’n parodie van Laaste Avondmaal was en noem dit selfs “die nuwe gay testament”.

In ’n land waar lastering nie net wettig is nie, maar as ‘n belangrike pilaar van vryheid van spraak beskou word, bring dit die opregtheid van die organiseerders se verskoning onder verdenking (vgl. Lev. 24:16; Kol. 3:8). Hoewel hierdie parodie ’n bespotting van Christus en die Christendom is, verwag die LGBTQIA+-gemeenskap in dieselfde asem aanvaarding en verdraagsaamheid van Christene.

Die feit dat kinders by ’n produksie met afstootlike seksuele ondertone betrek is, is laakbaar (vgl. Lk. 17:2). Die ontsteltenis en heilige woede van Christene is weglaatbaar klein teenoor die gevolge wanneer die heilige God as regter oor hierdie skreiende optrede sal oordeel (vgl. Spr. 3:34).

Die AP Kerk wil dit hiermee onomwonde stel dat die skoonheid van sport daarin geleë is dat gelowiges God daardeur verheerlik. Die Christelike karakter is duidelik wanneer atlete wat verloor, in die gees van ware sportmanskap aan die wenner erkenning gee, en wanneer wenners God vir hul gawes en vaardighede eer (vgl. Rom. 7:25; Kol. 3:17).

Die Bybel beskryf die vreugde van hulle wat aan God toegewyd lewe (vgl. Ps. 4:8; 16:11). Wanneer ander mense se optrede die eer van die Here aanstoot gee, is voorbidding vir sondaars gepas (vgl. Lk. 6:28).

Mag hierdie insident ons herinner dat Christene ín hierdie wêreld, maar nie ván hierdie wêreld is nie (vgl. Joh. 17:11-16). Christene laat hul nie meesleur deur die tydsgees en die verleiding van die wêreld nie (vgl. Efés. 4:14; Jak. 4:4), maar wil die wedloop voltooi wat in hemelse heerlikheid eindig (vgl. 2 Tim. 4:7; Hebr. 12:1

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui