NOORDWESTER – Molopo – Dumisani Mnyandu (56) sal na verwagting weer op Donderdag, 1 Augustus in die Molopo-landdroshof in Mahikeng verskyn vir borgtogaansoek.
Mnyandu is Donderdag 25 Julie in hegtenis geneem terwyl hy probeer het om die Ramatlabana-poort na Botswana oor te steek met ‘n Hyundai Grand Creta-voertuig. Hy is in hegtenis geneem nadat die sirkulasiestelsel gewys het dat die voertuig wat hy bestuur het, met ‘n Natalse registrasienommer, na bewering op Sondag, 14 Julie by Mbizana in die Oos-Kaap gekaap is.
Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat Mnyandu in transito na Malawi was.
Na sy inhegtenisneming het Mnyandu op Vrydag, 26 Julie, ‘n aanvanklike hofverskyning gemaak vir die besit van ‘n vermoedelik gesteelde motorvoertuig.
Provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Sello Kwena, het die polisie by die hawe van binnekoms geloof vir hul oplettendheid en samewerking met voertuigmisdaadondersoekeenheid (VCIU) in die stryd teen transnasionale misdade.