ʼn 22-jarige man van Wonderboom wat Maandag deur sy ouers by die Villieria-polisiestasie as vermis aangemeld is, is Woensdag lewend in ʼn stormwaterdrein gevind.
Volgens JP Botha, stigter van die Sinoville-brandbestrydingsvereniging (SBBV), was Julian Otto erg ontwater en gedisoriënteerd toe reddingswerkers op hom afgekom het op die hoek van Besembessie- en Goshawkstraat in Montana Park.
Hy was vermoedelik twee nagte lank daar vasgekeer.
“Die jong man se ouers was rasend van bekommernis. Hy is ʼn epilepsie-lyer en kon vir twee dae nie sy medikasie gebruik nie.”
Volgens Botha het die SBBV die oproep Woensdag omstreeks 15:15 gekry.
“ʼn Inwoner van Montana in die noorde van Pretoria het met sy hond gaan stap toe die hond skielik by die stormwaterdrein tot stilstand kom en onophoudelik begin blaf het. Die man het afgebuk om te kyk of hy iets in die drein kan sien. Dit is toe dat hy Julian vasgekeer in die drein aangetref het.
Die man het dadelik die gemeenskapspolisiëringsforum in kennis gestel waarna die SBBV ook na die toneel ontbied is.
Hoe die jong man in die drein beland het, is in hierdie stadium steeds ʼn groot raaisel, sê Botha.
“Die gapings in die drein was klein. Nie eers ons kleinste vrywilliger – ʼn klein vrou – kon in die drein pas nie. Ons het gelukkig voldoende masjinerie vir sulke reddingspogings en kon die beton van die drein oplig om Julian uit te kry.”
Botha sê daar is geen manier dat Julian self in die stormwaterdrein, waar hy gevind is, kon klim nie en dat hy vermoedelik deur ʼn ander ingang in die drein beland het.
“Ons het hom eerstens probeer rustig maak. Hy was angstig en gedisoriënteerd. Ons kon nie eens regtig met hom praat om uit te vind wat gebeur het nie.
“Paramedici het hom op die toneel gestabiliseer voordat hy na die Zuid-Afrikaanse Hospitaal vir behandeling geneem is.”
Volgens Estelle, Julian se ma, het haar seun Maandag omstreeks 15:00 ʼn uber van Bosloeriestraat in East Lynne bestel.
Die uber is ʼn halfuur later gekanselleer en Julian was spoorloos.
Volgens Botha was Julian se ouers oorstelp van vreugde nadat hulle seun veilig gevind is.
“Hy was ʼn hele ruk weg, en soos die ure verbygaan, verdwyn die hoop ook. Ons is regtig dankbaar dat ons ʼn lewe kon red,” het Botha gesê..