Die beskuldigde paar in die hoogspringer Jacques Freitag se moordondersoek het Woensdag hul borgtogaansoek laat vaar.
Die twee hoofverdagtes in die ondersoek na die wrede moord op die voormalige hoogspring-wêreldkampioen Jacques Freitag het Woensdagoggend 31 Julie hul derde verskyning in die Pretoria-landdroshof gemaak.
Die omstrede voormalige prokureur Rudolph “Rudie” Lubbe (52) en sy minnares Shantellè Oosthuizen (42) het hul borgtogaansoeke laat vaar en die staat versoek om uitstel tot 12 Augustus te verleen vir verdere ondersoek.
Luidens die amptelike klagstaat word die egpaar daarvan aangekla dat hulle tussen Mei en Junie vanjaar “onregmatig en opsetlik” met Freitag saamgesweer het om Oosthuizen se verloofde, Louis Harmse, te vermoor. Harmse het die aanval oorleef.
Hulle is ook van die moord op die 42-jarige Freitag aangekla.
In vergelyking met die pasgemaakte pak en das waarin hy voorheen in die hof verskyn het, het ‘n ongeskeerde Lubbe sy verskyning gemaak met ongeborselde hare en ‘n liggrys sweetpak-top.
Steve Hefferman van Hefferman (SDH) Prokureurs wat die egpaar se regsverteenwoordiging saam met Shaun Hefferman en advokaat Jack Bester hanteer, het gesê hulle sal in aanhouding by die Pretoriase Moot-polisiestasie gehou word.
Dit nadat staatsaanklaer Liana Bosman versoek het dat hulle by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Saps) Pretoria Moot aanbly om maklike toegang tot Lubbe en Oosthuizen te gee vir uitwysprosedures.
Die 2,04 m hoogspringer se ontbindende liggaam is op 1 Julie met drie skietwonde, veelvuldige steekwonde en ‘n gebreekte arm in ‘n veld naby die Zandfontein-begraafplaas, Pretoria-Wes, gevind.
Freitag se suster, Chrissie Lewis, het aan die Sunday Tmes gesê dat Freitag se gesig onherkenbaar was toe sy lyk gevind is en dat haar kêrel, Theo Botha, hom slegs deur middel van ‘n tatoeëermerk kon identifiseer.
Die ondersoekbeampte by Pretoria se Hercules-polisiestasie, kaptein Martin Smith, is Woensdagoggend vir kommentaar deur The Citizen genader en het bevestig dat Lubbe en Oosthuizen op hierdie stadium die enigste verdagtes in die moordondersoek is.
“Ons werk onophoudelik om die vuurwapen en mes waarmee Freitag vermoor is te probeer vind voordat sy liggaam in die veld gestort is,” het hy gesê.
Oosthuizen en Lubbe het verdwyn nadat hulle ondervra is in verband met die grimmige moord op Freitag. Hulle is Dinsdag, 16 Julie by ‘n gastehuis in Sabie, Mpumalanga, in hegtenis geneem ná ‘n kort maar intense soektog na die egpaar.
Volgens private ondersoeker Hennie Viljoen van Spesialised Sekuriteitsdienste (SSS) wat saam met die polisie in die ondersoek gewerk het, het die egpaar beweer hulle was nie op vlug nie, maar “met vakansie in Sabie” en onbewus van die lasbriewe vir arrestasie.
Freitag is laas lewend gesien toe hy op 18 Junie te voet ‘n gastehuis – 4 km van die begraafplaas af – verlaat het. Hy is glo die vorige dag by die instansie afgelaai deur Lubbe wat hom om 01:00 by die Bronkhorstspruit-huis van sy ma, Hendrien Pieters, gaan haal het om hom na bewering vir “‘n werk” te betaal.
Daar word geglo dat die hoogspringer se betrokkenheid by die ingewikkelde liefdesdriehoek tussen Lubbe, Oosthuizen en Harmse op ‘n “botched hit” neerkom.
Harmse het vroeër aan Rapport gesê hy is na bewering op 13 Junie deur Freitag met ‘n baksteen by ‘n woonstel langs Lubbe se huurhuis in Montanapark aangeval.
Luidens die publikasie het Freitag na bewering beide Lubbe en Oosthuizen geken saam met wie hy glo gereeld dwelms gebruik het.
Lubbe is in 2006 van die rol van prokureurs geskrap ná klagtes van die Prokureursorde van die Noordelike provinsies dat hy onprofessioneel was en geld uit sy trustrekening gesteel het.
Hy het ook in Augustus 2004 opslae gemaak nadat hy in hegtenis geneem is omdat hy na bewering gedreig het om sy destydse vrou, Magdaline, te vermoor.
Freitag was net 21 toe hy op 25 Augustus 2003 die goue medalje in die manshoogspringbyeenkoms by die 9de IAAF Wêreldatletiekkampioenskap by die Stade de France in Parys verower het.
Hy hou steeds die Afrika-rekord met ‘n hoogte van 2.38m wat hy in ‘n kompetisie in 2005 opgestel het en is een van slegs 10 atlete, insluitend Usain Bolt, wat wêreldkampioenskaptitels op die jeug-, junior- en seniorvlak van ‘n atletiekbyeenkoms verower het.