“Tydens die operasie het die polisie 14 skaapkarkasse, 23 lewende skape, 11 lammers, ’n Toyota Corolla, vier selfone, ses Lesotho-paspoorte en drie messe gevind.”
Drie verdagtes sal in die hof in die Vrystaat verskyn nadat hulle vir veediefstal in hegtenis geneem is.
Die verdagtes, onderskeidelik 32, 37 en 49 jaar oud, is Sondag (28/7) in Bultfontein in hegtenis geneem. Hul arrestasies het gevolg ná ‘n polisie-ondersoek na ‘n diefstal wat by die Martensrus-plaas plaasgevind het waar 40 skape as vermis aangemeld is.
“Die drie verdagtes is aangekeer terwyl hulle skape geslag het,”
Vrystaatse polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê die polisie het omstreeks 11:55 inligting oor die diefstal ontvang. Met aankoms op die plaas is bevestig dat die skape vermis is. ’n Voorlopige ondersoek het gelei tot die ontdekking van voetspore, wat die polisie vir ’n aansienlike afstand van die misdaad-toneel gevolg het. Die drie verdagtes is aangekeer terwyl hulle skape geslag het.
Tydens die operasie het die polisie 14 skaapkarkasse, 23 lewende skape, 11 lammers, ‘n Toyota Corolla, vier selfone, ses Lesotho-paspoorte en drie messe gevind. Die verdagtes is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde vee.
In 2022 is R4,5 miljoen bewillig vir risikobestuur rakende veediefstal in die Vrystaat. Hierdie befondsing is aangekondig deur die destydse LUR vir Landbou, Thembeni Nxangisa, wat die toenemende vraag na veeprodukte in ontwikkelende lande in vergelyking met ontwikkelde lande beklemtoon het.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het kommer uitgespreek oor die lae arrestasie- en skuldigbevindings-koerse vir misdaad wat landelike gebiede raak, veral veediefstal en plaasaanvalle. DA-leier in die Vrystaat, Roy Jankielsohn, het beklemtoon dat veediefstal en plaasaanvalle jaarlikse verliese vir miljarde rande vir die landbougemeenskap meebring. Hierdie gemeenskap sukkel reeds weens hoë insetkoste, swak padtoestande, verhoogde elektrisiteitspryse en beurtkrag.
Nxangisa het vee-eienaars en patrolleerders teen veediefstal versoek om met die polisie saam te werk deur inligting te verskaf wat kan lei tot die arrestasie van misdadigers wat by sulke aktiwiteite betrokke is.
