‘n 17-jarige man is in hegtenis geneem op vermoede van moord en poging tot moord in Southport, naby Liverpool in Noordwes-Engeland, in ‘n aanval wat ook twee volwassenes met kritieke beserings gelaat het, het die Merseyside-polisie gesê.
Serena Kennedy, polisiehoof, het gesê dat die aanval nie as terreurverwant behandel word nie, en dat die aanvaller se motivering onduidelik is.
Al die beseerdes is gesteek, het sy bygevoeg.
Eerste Minister Keir Starmer het aan die media gesê dat “die gebeure vandag net werklik aaklig is, die hele land is diep geskok”.
“Ons gedagtes en meegevoel is met die slagoffers, families, vriende en breër gemeenskap. Dit is byna onmoontlik om die hartseer voor te stel,” het hy gesê.
Die polisie is kort voor middag (1100 GMT) na ‘n eiendom ontbied wat ‘n Taylor Swift-tema-dansklas vir jong kinders aangebied het, het Kennedy gesê.
Beamptes was “geskok om te vind dat verskeie mense, van wie baie kinders was, aan ‘n wrede aanval onderwerp is”, het sy gesê.
Die verdagte het glo van die straat af ingestap en die kinders begin aanval, terwyl volwassenes in die kamer hulle probeer beskerm het, het Kennedy gesê.
Gewapende beamptes het opgedaag en die verdagte aangehou en op ‘n mes beslag gelê.
Koning Charles III het sy “opregte meegevoel, gebede en innige simpatie” in ‘n verklaring betuig en die voorval “heeltemal aaklig” genoem.
Prins William en sy vrou Katherine het op X gepos dat “ons as ouers nie kan begin dink waardeur die families, vriende en geliefdes van diegene wat vandag in Southport vermoor en beseer is, deurmaak nie”, en noem dit ’n “gruwel aanval”.
Die Noordwes Ambulansdiens (NWAS) het gesê hy het 11 beseerdes met steekbeserings op die toneel behandel, wat toe per ambulans en helikopter na Alder Hey-kinderhospitaal en ander hospitale in die omgewing geneem is.
Plaaslike sake-eienaar Colin Parry, een van die mense wat die polisie gebel het, het aan die nuus-agentskap Press Association gesê hy glo verskeie “jong meisies” is gesteek.
Bare Varathan, wat ‘n plaaslike winkel besit, het aan PA gesê hy het “sewe tot 10 kinders” gesien wat “beseer, bloei”, en bygevoeg dat hy gesien het hulle is gesteek.
Die verdagte is in aanhouding en “navrae duur voort om die motief vir dié tragiese voorval vas te stel”, het die polisie gesê.
Die gebied waar die voorval plaasgevind het, is in ‘n stil woonbuurt. Sommige inwoners wat toegelaat is om uit die polisiekordon te kom wat dit afgesluit het, het geskok gelyk, volgens ‘n AFP-verslaggewer op die toneel.
“Dit is nie wat jy verwag om in Southport te sien nie,” het een man wat in ‘n aangrensende straat woon, wat nie sy naam wou noem nie, aan AFP gesê.
‘n Berig is net na 14:00 vandag ontvang dat nog ‘n dogtertjie gesterf het.