Johannesburg Metro Polisiedepartement (JMPD) lê beslag op whisky, brandewyn, jenewer en vodka ter waarde van miljoene by onwettige distilleerdery

Die operasie is ‘n beduidende slag vir die onwettige alkoholhandel en beklemtoon JMPD se verbintenis tot die bekamping van georganiseerde misdaad.

Wetstoepassers het op ‘n onwettige distilleerdery in Hekpoort, Gauteng toegeslaan en beslag gelê op onder andere kontant, masjinerie en alkohol ter waarde van ‘n geraamde R20 miljoen

Die Johannesburgse Metropolitaanse Polisiedepartement (JMPD) se taktiese reaksie-eenheid en Valke het vroeër vandeesweek die onwettige distilleerdery in Hekpoort, Wes-Rand Distrik, suksesvol afgebreek.

Xolani Fihla, woordvoerder van die JMPD, het gesê amptenare het toegeslaan nadat hulle inligting ontvang het van ‘n klandestiene operasie wat vervalste alkohol vervaardig, botteleer en verpak het.

“Met aankoms by die perseel is beamptes deur ‘n 45-jarige man ontmoet wat beweer het hy is die bestuurder en aandeelhouer van die onderneming. ‘n Daaropvolgende deursoeking van die eiendom het ‘n gesofistikeerde onderneming ontdek wat whisky, brandewyn, jenewer en vodka vervaardig, insluitend vervalste etikette en verpakking.

“Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Sars) se doeane-afdeling is ontbied om die toneel oor te neem. Daar is beslag gelê op altesaam R570 000 kontant, saam met masjinerie en alkohol wat na raming R20 miljoen werd is. Die verdagte is by Hartbeespoortdam Saps gearresteer en aangehou,” het Fihla gesê.

Fihla het bygevoeg die operasie is ‘n beduidende slag vir die onwettige alkoholhandel en beklemtoon JMPD se verbintenis tot die bekamping van georganiseerde misdaad.

“Ons sal voortgaan om nou saam te werk met ons wetstoepassingsvennote om kriminele aktiwiteite te ontwrig en die publiek te beskerm.”

’n Oplewing in vervalste goedere teister tans die Suid-Afrikaanse mark.

Saps het tot dusver beslag gelê op meer as R400 miljoen se vervalste en onwettige goedere in die afgelope agt maande ná die stigting van die Nasionale Vervalsingseenheid in November 2023.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui