Dagvaarding stop vroedvrou in haar spore

Die kommer van ’n private vervolgingseenheid dat ’n geskorste vroedvrou steeds haar werk voortsit en hul aanbod om die ouers van twee kinders te help, het nou daartoe bygedra dat sy krimineel vervolg is.

’n Gederegistreerde vroedvrou van Pretoria-Oos wat in 2022 deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) geskors is, het op 24 Julie 2024 in die hof in Pretoria verskyn.

Nico Raubenheimer, die regsverteenwoordiger van Yolande Fouchee (voorheen Maritz), het aan Rekord bevestig dat sy kliënt krimineel vervolg word.

Fouchee het glo voortgegaan om haar dienste te lewer nadat sy in 2002 deur die SARV geskors is.

Raubenheimer wou nie uitbrei oor die aard van al die klagtes teen haar nie.

Volgens AfriForum se private vervolgingseenheid is Fouchee gedagvaar om onder meer in die hof te verskyn op aanklag van aanranding.

Woordvoerder Barry Bateman het gesê twee van die redes waarom Fouchee vervolg word, is dat sy na bewering medikasie aan verskeie swanger vroue toegedien het wat vermoedelik tot komplikasies by geboorte gelei het, asook dat sy sonder ‘n lisensie as vroedvrou gepraktiseer het.

Die private vervolgingseenheid verteenwoordig ’n Pretoriase ma Carien Möller (ma van Sophia) en Alysia von Kloëg (ma van wyle Noah) van Middelburg in Mpumalanga in die saak.

Möller en Von Kloëg het onderskeidelik in 2020 en 2022 kriminele klagte aanhangig gemaak ná komplikasies by geboortes onder toesig van Fouchee/Maritz as vroedvrou.

Hierdie komplikasies het nege dae ná geboorte tot die dood van Von Kloëg se babaseuntjie gelei en Möller se vierjarige dogter met serebraal gestremdheid gelaat.

AfriForum het voortdurend druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) uitgeoefen om vinnig te vervolg.

“Die eenheid het hom vir ‘n jaar en ‘n half toegewy om Carien en Alysia te ondersteun in hul strewe na geregtigheid en om te verseker dat Maritz verantwoordelik gehou word vir haar dade,” het Bateman gesê.

Maritz is in 2021 deur die SARV skuldig bevind aan nalatige en onprofessionele gedrag en is permanent as vroedvrou gederegistreer. Sy het teen die bevinding geappelleer, maar is verwerp.

Die private vervolgingseenheid het die NVG in 2023 betrek nadat Möller en Von Kloëg hul kommer uitgespreek het oor die stadige vordering van die saak.

Bateman het gesê die dagvaarding moes baie vroeër beteken het.

“Ons het die vervolgingsgesag ingelig dat hul versuim om die vroedvrou te vervolg haar toegelaat het om met haar aktiwiteite voort te gaan en dat sy swanger vroue verdere skade kan berokken.”

Fouchee en haar man het na bewering weer op sosiale media begin adverteer, ten spyte daarvan dat sy geskors is, onder die besigheidsnaam iBaby Mobile Ultrasound om tuisgeboortes en swangerskap-ultraklankskanderings uit te voer. Sy het haar doodeenvoudig nie aan die deregistrasie en skorsing gesteur nie.

Die Fouchees het onder meer op sosiale mediagroepe in Pretoria geadverteer deurdat haar man Paul hul status gedeel het.

Hulle is ook vroeër vanjaar op heterdaad betrap deur die TV-ondersoekprogram Carte Blanche waar sy sonarskanderingdienste verskaf het.

Dit is moeilik vir Möller om die kwessie te bespreek. Haar dogtertjie, Sophia, ly sedert haar geboorte op 11 Julie 2019 aan serebraal gestremdheid en word hierdie week vyf jaar oud. Die dogtertjie met die krullerige hare het deurlopende sorg nodig weens haar gestremdheid.

Die SARV het bevind Fouchee het nie betyds mediese ingryping tydens die geboorte versoek nie, wat breinskade tot gevolg gehad het.

“Dit is nou die tyd waar ons op belangriker dinge wil fokus. Ons fokus op die positiewe en die seëninge van die Here,” het Möller gesê.

Sy het AfriForum in 2022 genader nadat hulle reeds in in dieselfde jaar ’n strafregtelike klag by die SARV-tugverhoor ingedien het.

“Ons as gesin is verlig dat sy uiteindelik vervolg word. Ons is een stap nader aan geregtigheid. Ek het baie vrede in my hart oor ons reis saam met Sophia en die strafsaak,” het Möller verduidelik.

Sy meen dat “dit moes gebeur sodat dit nie met duisende meer mag gebeur nie. Sophia het my my roeping in die lewe gegee. Dit is nie altyd maklik of regverdig nie. Maar Jesus sê: Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle vrede in My kan vind. In die wêreld ervaar jy lyding maar hou moed. Ek het reeds die wêreld oorwin.”

Jeanneth Nxumalo, waarnemende uitvoerende registrateur en HUB van SARV, het gesê Fouchee is nie geskors nie, maar uit die Verpleegstersregister verwyder.

Dit beteken sy mag nie as ‘n verpleegster praktiseer nie en enige klagte of saak wat na sodanige verwydering aangemeld word, is ‘n kriminele klag en sal ingevolge die strafreg hanteer word.

Nxumalo het aan Rekord bevestig dat geen klag teen Fouchee aanhangig gemaak is sedert sy verwyder is nie en daarom het hulle geen opvolgwerk gedoen nie.

“Om as verpleegster of vroedvrou te praktiseer sonder om by die vereniging geregistreer te wees, is teen die 2005 Verplegingswet, (Wet No 33 van 2005) en as die vereniging daarvan kennis neem, kan ‘n strafsaak teen so ‘n persoon geopen word,” het Nxumalo verduidelik.

Artikels oor die uitgesette vroedvrou in 2016 op homebirth.org.za voordat sy geskors is, onthul dat die oud-inwoner van Bloemfontein die ma van twee meisies is. Haar sosiale media-bladsye wys dat sy op 19 Junie 2021 met Paul Fouchee getrou het.

Huisgenoot het in Mei 2021 berig dat Estuné Maritz, dogter van die Pretoriase vroedvrou Yolande Maritz, in Februarie 2021 ure in die tronk deurgebring het omdat sy vrouens teen haar ma gewaarsku het. Sy is kragtens ’n hofbevel verbied om oor Yolande en haar praktyk te praat. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui