Die voormalige minister se bedanking met onmiddellike effek is Donderdag deur die ANC bevestig.
Voormalige minister van sport, kuns en kultuur, Zizi Kodwa, het bedank as lid van die parlement (LP) van die African National Congress (ANC).
Dit het gevolg op kritiek oor Kodwa se ontplooiing na die Nasionale Vergadering.
“Die sekretaris-generaal van die ANC, kameraad Fikile Mbalula, het ‘n brief van kameraad Zizi Kodwa ontvang wat sy bedanking as parlementslid formeel meedeel.
“Die brief is gedateer 24 Julie 2024, en die bedanking is met onmiddellike effek.
“Die African National Congress het die brief aanvaar en wens kameraad Zizi sterkte toe,” lui die party se verklaring.
Kodwa se terugkeer na die Parlement het woede onder die publiek ontketen, selfs van die ANC se alliansievennoot, die Congress of South African Trade Unions (Cosatu).
Die voormalige kabinetsminister is op 25 Junie by die Goeie Hoop-kamer in Kaapstad as ANC-LP beëdig, net weke nadat hy van korrupsie aangekla is.
Boonop het Kodwa besluit om opsy te tree as lid van die ANC se Nasionale Werkkomitee (NWK) en Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK).
Die voormalige minister het op die kritiek oor ontplooiing na die Nasionale Vergadering gereageer en gesê die ANC is in die beste posisie om die stap te verduidelik.
Kodwa se bedanking as ‘n ANC-LP volg op sy tweede verskyning by die Palm Ridge Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof, waar hy Dinsdag saam met die voormalige EOH Group senior uitvoerende hoof, Jehan MacKay, aangekla staan. Die voormalige minister en sy medebeskuldigdes is aangekla van oortreding van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite asook oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.
Die twee, wat uit is op borgtog van R30 000 en van voorneme is om tydens die verhoor onskuldig te pleit, sal op 21 Augustus na die hof terugkeer nadat hul saak uitgestel is vir verdere konsultasies en instruksies.
Daar word beweer dat Mackay tussen April 2015 en Februarie 2018 omkoopgeld van R1,6 miljoen aan Kodwa betaal het. Die geld is glo gebruik om ‘n “luukse” sportnutsvoertuig te koop en vir “luukse” verblyf. Die betalings aan Kodwa was glo vir sy ingryping in staatsverkrygingsprosesse tot voordeel van Mackay, EOH en Tactical Software Systems (TSS), wat na bewering daartoe gelei het dat ‘n tender van R360 miljoen gekanselleer is.
Die voormalige minister se bedanking met onmiddellike effek is Donderdagmiddag deur die ANC bevestig.